Metamfetamien, oftewel tik, word oor die wêreld heen versprei, maar veral in Suid-Afrika, met die Wes-Kaap wat die land se vooraanstaande tik-verbruiker is.
In haar radio-dokumentêr Tik in die platteland, wat op 31 Augustus uitgesaai is, delf sy dieper oor die gebruik van dié dwelm in plattelandse dorpe.
Paarl Post het uitgereik na Hannelie Krige, ’n maatskaplike werk-toesighouer by die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, met ’n doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Stellenbosch en wat ook te woord kom in Brink se dokumentêr.
Volgens haar word tik grotendeels gebruik omdat dit maklik bekombaar en veral goedkoop is. “Mense is arm, en dit [tik] kos net R20 per sakkie.”
Sy het ook verduidelik dat een sakkie ’n tikverslaafde vir 72 uur bedwelmd kan hou.
Volgens Krige is Kaapstad “die hoofstad van tikverbruik” omdat dit nou verbind is met die bendes in die Kaap en vinniger na nabygeleë dorpe versprei kan word.
“Elke munisipaliteit moet ’n plaaslike dwelm-aksiekomitee hê,” het sy verduidelik op die vraag hoe die plaaslike regering dwelmmisbruik kan bekamp.
Hierdie komitee is dan verantwoordelik om dwelmverslaafdes te huisves en te rehabiliteer asook om dwelmhandelaars vas te trek.
Nóg ’n manier om tikverslaafdes, en dwelmverslaafdes as ’n geheel, te ondersteun is om voorkomingswerk in gemeenskappe te handhaaf waar daar gepraat word by byvoorbeeld skole en kerke oor die gevare wat dwelms inhou, en gebruikers bewus maak van die hulp wat die staat en welwillendheidsorganisasies bied.
Volgens Krige is dit ook belangrik om die stigma rondom tikgebruik te normaliseer, en nie uitsprake soos “tikkop” te maak nie, omdat dit verslaafdes demotiveer om na hulp te soek.
Volgens die berig “Purer form of crystal meth from Afghanistan and Pakistan hitting South African drug market” wat in 2021 deur die Daily Maverick gepubliseer is, en ook aangehaal word in Brink se dokumentêr, is tik die dwelm van keuse onder inwoners van veral die Wes-Kaap sedert 2005 toe dit Mandrax, dagga en alkohol verbygesteek het.
Ander provinsies wat ’n hoë tikverbruik aangemeld het, sluit in die Oos- en Noord-Kaap, Noord-Wes, en Vrystaat.
“Tikverbruik het ’n lang geskiedenis in Suid-Afrika wat terugdateer na die vroeë dae van die demokratiese oorgang (en met wortels in die apartheidsjare). Die eerste tik-laboratorium is in 1998 in Suid-Afrika op beslag gelê, kort nadat die gebruik daarvan vir die eerste keer in Kaapstad opgespoor is,” luidens die artikel.
Volgens kapt. Louise du Plessis, die woordvoerder van die Paarl-polisie, is tik ook aan die toeneem in die Paarl-Wes-polisiëringsgebied en is dié dwelm “ ’n daaglikse bekommernis vir polisiebeamptes wat op hierdie misdade fokus”.
Du Plessis het per e-pos verduidelik dat die meerderheid dwelmverbruikers in die besit van tik gevind word, maar ook van Mandrax en dagga.
Volgens haar word mense gereeld vir die besit van tik en Mandrax in alle sektore in Paarl-Wes in hegtenis geneem.
“Inhegtenisnemings vir partytjie-dwelms soos kokaïen, MDMA en ecstasy is minder as vir tik en Mandrax, maar hierdie dwelms word meer gereeld gebruik deur die jonger geslag wat die dwelms kan bekostig.”
Die koerant het ook uitgereik na kol. Johan Barkhuizen van Wellington-polisie wat gesê het dit is moeilik om vas te stel of tikverbruik- en verkope in dié dorp toegeneem het.
Die Paarl-Oos-polisiekantoor, in samewerking met die Kaapse Wynland-gesamentlike-operasies-eenheid, het op 8 September ’n dwelmgefokusde optrede gehou waarin 18 mense in hegtenis geneem is en op verskeie dwelms, onder meer tik, beslag gelê.