Die Tiere-vrouekrieketspan het die afgelope naweek geskitter toe hulle Sondag in ’n T20-toernooi met Wellington en daarna ook met Stellenbosch klaargespeel het.Foto: Ernest Kilowan


Die Young Peoples-krieketklub het die afgelope naweek geskiedenis gemaak toe al vyf spanne van die klub in baie belangrike wedstryde teen die besoekende Worcester Victorians KK, Paarl KK, Paarl Oos KK asook die vrouespan wat teen Wellington en Stellenbosch KK gespeel het, te staan gekom het.

Vir die Tiere se eerste span moes hulle die wedstryd wen om weer op dreef te kom en aanspraak te maak op hul liga- aspirasies. Vics het die loot gewen en die Tiere ingestuur om eerste te kolf – op ’n bouler vriendelike baanblad. Hierdie toestande was nie tot die besoekers se voordeel nie, en die openingspaar – Josh Samuels (20) en Bradwin Hollenbach (95) – het seker gemaak hulle speel reg deur met die nuwe bal met ’n openings­vennootskap van 74 lopies voordat Samuels sy paaltjie verloor het.

Vics het hierna ook gou van die nommer 3-kolwer, Kyle Fortuin, ontslae geraak. Met die val van die tweede paaltjie het Anwil Andrews (57) hom by Hollenbach aangesluit en hulle het ’n 83-lopie-vennootskap aangeteken en die skare met praghoue op die voete gehad.

Die Tiere het hul kaptein, Hollenbach (95), en Andrews (57) kort ná mekaar verloor, maar met ses boulbeurte in die kolfbeurt het die Tiere se twee groot slaners, Reduwaan Louw en Byron Davids, stelling voor die penne ingeneem en die Vics-boulers gekasty.

Louw het 35 lopies van slegs 22 balle en Davids 34 van 17 balle aangeteken om die Tiere se beurt op 285/7 ná 50 boulbeurte af te sluit.

Vics se lopiejaagtog het rampspoedig begin toe Clint Brockman (8-4-18-2) reeds in die tweede boulbeurt van die openings­kolwer vir net 10 lopies ontslae geraak het. Hiervandaan het dit net afdraand vir die Worcesteriete gegaan, wat met reëlmaat paaltjies verloor het. Vir Vics het Granville Welcome 86 lopies gemoker, maar hy het geen ondersteuning van sy medekolwers gekry om die telling verby te steek nie. Vir die Tiere het Ethan Cupido 3/18 in 6.5 beurte, Kyle Fortuin 3/38 in 7 en Anwill Andrews 2/25 in 7 beurte uitstekend geboul om die manne van Vics vir 189 uit te boul. . In Worcester het die Tiere se tweede span ook gemaklik teen Worcester Vics II gewen. Young Peoples II het eerste gekolf en ’n stewige 227/5 in 50 beurte aangeteken. Hulle het Vics II toe vir slegs 164 lopies in 39 boulbeurte uitgehaal en gemaklik met 63 lopies gewen. Die beste bouler was Romeo Pick met 4/28.

Die oorwinning het die Tiere se tweede span stewig in die eerste plek op die punteleer geplaas.

Young Peoples se vierde span het ook hul wedstryd teen Paarl III op Daljo­safat gewen. Paarl het 71/6 gehaal met Garryne Fortuin 4/11 die beste bouler. YP VI het dié telling in die sesde beurt gehaal. Cresendo Jampies het 29 lopies gemoker.

YP III het hul wedstryd teen Paarl-Oos III gewen nadat laasgenoemde die wedstryd prysgegee het.

Sondag het die Tiere se wenstreek voortgeduur toe die vrouespanne met onderskeidelik Wellington KK en Stellenbosch KK afgereken het. Die Tiere-vroue het teen Wellington eerste gekolf en 133/4 in hul 20 beurte aangeteken met Audrey Peterson 36, Ashlin Kilowan 36 en Tashlin Peterson 24 die voorste lopiemakers. Hulle het Wellington tot slegs 61/7 in 20 beurte beperk; Audrey Peterson het 3/15 in 4 beurte geboul.

Die Tiere-vroue het dus gemaklik met 71 lopies gewen.

Dié naweek speel YP I (Daljosafat ) en II (Caledon) teen Caledon. Die eerste-span-wedstryd behoort ’n taai stryd te wees aangesien dié twee vir die nommertwee-posisie op die punteleer baklei.

You need to be Logged In to leave a comment.