In vandag se wêreld is tienerswangerskappe nie iets nuuts is nie, en dit word deesdae beslis nie meer as skande beskou nie.
Tog, kyk ’n mens na die 2017-statistieke wat aandui dat bykans 120 000 Suid-Afrikaanse tienermeisies tussen 15 en 19 jaar in daardie jaar die lewe geskenk het, wonder ’n mens onwillekeurig wat van hierdie meisies word – wie sorg vir hulle en die babas, gaan hulle terug skool toe, verval hulle net verder in ’n siklus van armoede? Wat nog meer onrusbarend is, is die nuwe tendens dat kinders so jonk as 10 jaar oud swanger raak.
Volgens die Recorded Live Births-verslag deur Statistiek Suid-Afrika het 3 261 meisies tussen 10 en 14 in 2018 ma geword.
Tussen April 2020 en Maart 2021 was daar in Gauteng alleen meer as 23 000 tienerswangerskappe onder meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 jaar – 934 van hierdie geboortes was deur meisies tussen 10 en 14 jaar oud. En dit is net dié wat geregistreer is. Diegene wat nie aangemeld is nie en ander wat aborsies gehad het, is nie hierby ingereken nie.
Tienerswangerskappe het talle sielkundige, gesondheids-, ontwikkelings- en bevolkingsprobleme tot gevolg, maar wat is die grootste uitdagings in die verband en wat is die werklike gevolge vir jong meisies en die betrokke jong seuns (of mans)? Hoe hanteer ’n mens dit?
Afrikaans.com het Emmerentia van Wyk, ’n medewerker van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), en aanbieder van werksessies oor die voorkoming van tienerswangerskappe, genader om ons vrae te beantwoord en ons meer te vertel oor die werksessies wat hulle aanbied.
Emmerentia sê om as tiener skielik uit te vind jy is swanger, en dat die swangerskap boonop onbeplan is, kan ’n groot skok wees met geweldige stres wat daarmee gepaardgaan. Nie net vir die swanger tiener nie, maar ook vir die familie.
“Skielik flits al hierdie vrae deur jou kop: Wat van skool? Wie gaan my ondersteun sodat ek skool kan klaarmaak? Vir wie gaan ek eerste vertel – behalwe my kêrel – dat ek swanger is? Is ek en my ouers finansieel sterk genoeg om ons hierdeur te dra? Wat is my ander opsies?” Die lys is lank.
Emmerentia sê ook daar is soveel groot uitdagings wat tegelykertyd ’n impak op die tiener het, dat ’n mens nie net een of twee kan uitsonder nie.
“Sielkundige en gesondheidskwessies gaan hand aan hand en die tiener moet dit alles gelyktydig hanteer.”
Wat is die hoofoorsake van tienerswangerskappe?
Volgens Emmerentia is daar talle oorsake, soos gebrek aan ouerleiding en/of ouertoesig, gebrek aan positiewe familie-/gesinsinteraksie, gebrek aan kennis oor voorbehoedmiddels, swak toegang tot voorbehoedmiddels of te skaam om kliniek toe te gaan vir voorbehoedmiddels, onkunde, armoede en verkragting en/of seksuele mishandeling.
Hoe ervaar die swanger tiener die situasie?
Emmerentia sê wanneer ’n tiener swanger word, verander haar lewe vir altyd en dit kan baie moeilik wees. Sy lig die volgende kwessies uit en deel ook enkele voorbeelde van antwoorde op ’n vraelys wat sy tydens haar studies gebruik het.
“Emosionele reaksies. Baie ervaar alleenheid, want hulle word afgesny van hul vriende en in baie gevalle selfs deur die kêrel. Daar is dikwels ook onvoldoende kommunikasie met die ma, want die meisie kan nie deel wat sy werklik ervaar terwyl sy swanger is nie.
“Byvoorbeeld, een van die respondente in my studie het die volgende gesê: ‘Terwyl ek swanger was, het dit gevoel of dit die moeilikste en eensaamste nege maande van my lewe is, ek was baie alleen.’
“Swanger tieners ervaar ook gevoelens van spyt wees, want: ‘Ek kon nie my matriekjaar voltooi nie, kon nie matriekafskeid toe gaan nie. Ek het besef daar is so baie wat ek gemis het en het baie gehuil.’
“Baie swanger tieners ervaar baie bekommernis oor die finansiële aspek van hul lewe asook oor die gesondheid van hul baba.
“Dit was die antwoord van een van die respondente: ‘Ek het nie gewerk nie. My boyfriend het nie gewerk nie. Ek was bekommerd oor wie vir my kind gaan sorg. Die goedjies wat ek gaan nodig kry. Ek was bekommerd oor waarheen ek gaan. Dit was my grootste bekommernis, waarnatoe ek gaan, waar gaan ek die geld kry.’ Nog ’n jong meisie het gesê: ‘(Ek is) bekommerd oor baie dinge, want hy het nog niks vir die kind gekoop nie. My ouers moes alleen gesorg het …’
“Swanger tieners is bewus van die impak wat hul terugkeer na die skool kan hê. Baie van hulle wil nie terugkeer skool toe nie omdat baie van hul vriende al die skool gelos het. Sommige van hulle keer wel terug skool toe, maar weens die druk en omstandighede by die huis los hulle dan ook maar die skool. Hulle is dan ook skaam as hulle terugkeer skool toe.
Enkele riglyne om die situasie te hanteer en tienerswangerskap te verhoed
“Ek was vir baie lank ’n lewensoriënteringsopvoeder en volgens my is dit ’n vak wat baie belangrik is omdat dit al hierdie kwessies ondersoek en hanteer.
“Skole kan dus ’n baie belangrike rol speel in die verband, omdat dit die plek is waar die kinders al die nodige inligting kan kry om hulself te bemagtig oor hul seksualiteit, ensovoorts.
“Werksessies kan gehou word om die kwessies te hanteer. Tydens die werksessies kan sprekers, soos byvoorbeeld klinieksusters, gevra word om oor voorbehoedmiddels te praat, indien die opvoeder ongemaklik is om oor die kwessies te praat.”
In baie gevalle is dit moeilik vir ouers om oor seks, seksualiteit, voorbehoedmiddels en dies meer te praat, of ouers self het nie genoeg inligting daaroor nie.
“Tieners kan na klinieke toe gaan om meer omtrent voorbehoedmiddels uit te vind. Ongelukkig is die klinieke dikwels nie tienervriendelik nie en voel tieners nie vry om soontoe te gaan nie.
“Verbeter tieners se kennis van voorbehoedmiddels. Hou gereeld werksessies in die gemeenskap wat die kind, ouer, skool en kerk betrek.
“Sodoende kan die ouers ook hulself bemagtig oor onderwerpe waaroor hulle min kennis het.
“Daar is ’n groot behoefte aan noodsaaklike kommunikasie tussen ouer en kind omdat onderwerpe soos seks oor gepraat moet word. Ondersteunende groepe kan gestig word om ouers te help.
“Kry plekke waar moeder en dogter vryelik kan praat oor hul gevoelens en idees uitruil buite die grense van tradisionele rolle.
“Seksualiteitsopvoeding moet onder meer daartoe bydra dat tieners goed voel oor hulself en hul liggaam, en sodoende ook hul selfbeeld verbeter.
“Seksualiteitsopvoeding moet die positiewe komponente van intimiteit bevorder en nie net fokus op die negatiewe, soos onbeplande tienerswangerskap nie.”
’n Duidelike onderskeid moet getref word tussen seksualiteitopvoeding en seksonderrig.
“Programme moet inligting en demonstrasies insluit oor voorbehoedmiddels en hoe om dit te gebruik.”
Vir meer oor die SBA en die goeie werk wat hy doen, besoek www.sbafrikaans.co.za


