Uiteindelik gevang en vasgedruk. Sy voete trap nog in die lug terwyl sy arms – reeds styf vasgepen teen sy lyf – tog nog probeer losruk vir beheer. Dan voel hy onwillekeurig gedwing om rustig te raak; om stil te sit en waar te neem. Skielik dwing selfs die geskarrel van tortelduiwe hom om te peins oor wat hom voorheen weerhou het om meer kere só stil te raak; om ’n nuwe kuns van die natuur en die lewe te aanskou. Hy besef hoe vinnig dit vreemd geword het om gesinne te sien Bybelstudie hou, of hoe uitdagend dit vir die mensdom geword het om af te skakel en terug te keer na die eenvoud van die lewe.

SSy naam is Tienerlewe.

Die koronavirus het groot getalle tieners se glas van toekoms-onsekerheid blitsig opgevul. Maande en selfs jare se harde werk vir dinge soos sportbeurse is in ’n oogwink omvergewerp. Tienerlewe het hom nou teen ’n onvoorspelbare en gedugte opponent vasgeloop.

Een ding waarin die verskillende kulture van Suid-Afrika as ’n eenheid saamgesnoer word, is ’n humoristiese oog in ongewenste situasies. So doen ’n video op sosiale media deesdae die ronde waarin gevra word: “President Cyril, gie vi’ ons ’n pouse, man.”

Wat is skooldae tog sonder hierdie woorde? Dié einste vraag draai seker al van die eerste week van grendeltyd af in die hart van tieners rond. Die vreemde en onvoorspelbare inperkingstydperk skep een baie spesifieke frustrasie vir talle tieners – die blote gedagte aan die verlies aan kosbare tienerherinneringe.

Tienerwees dink aan elke matrikulant – die jaar waarna almal altyd uitsien; die oesjaar van kosbare stories om op te gaar en eendag rondom kampvure te vertel terwyl jy terugdink aan “die goeie ou dae”. Hoërskool word beskou as die laaste jare waarin tieners kan deel wees van ’n sorgelose vryheid wat die grootmenswêreld net nooit weer gaan inhou nie.

Vandag waardeer Tienerlewe die oomblikke soveel meer waarin vriende saam op die maat van goeie musiek kon dans en die lirieke net hard genoeg kon uitbasuin sodat niemand mekaar se verkeerde versreëls hoor nie. Die knop in sy keel raak groter namate die grendeltyd voortdurend verleng word. Interskole, koshuis opmaak, hokkieseisoen, toere, avokadopeer-oestyd deur die wit vensterbanke van ‘n koshuiskamer, nuwe mense ontmoet in pragtige dansrokkies, pousestories, massa-banksessies, goeie klastye en soveel ander geleenthede . . . dis alles besig om te verdwyn.

Covid-19 is ’n situasie wat soos Berg Ararat voor die wêreld staan. Tog vind jongmense nog altyd ’n manier om dit in ’n effense avontuur te verander. Verjaarsdae word gevier met saamgestelde video’s waarin verskeie vriende verskyn. Die jeug daag mekaar uit op sosiale media om oefentoertjies te doen of vreemde koskonkoksies te maak.

Tienerlewe weet grendeltyd is nie vir almal gerieflik nie. Tog is sy wens vir jongmense dat hulle die geleentheid vernuwend met groot inisiatief sal aangryp om ’n nuwe geskiedenis te skryf. Wat gaan tieners doen om goed te wees vir mekaar en hul eie horisonne te verbreed? Hoe gaan die jeug ophou kosbare tyd verby wens en met ’n optimistiese lens na elkeen se eie lewensdoel in die stryd teen Covid-19 kyk? Want voor Tienerlewe loskom uit die kloue van grendeltyd, moet elke tiener begin besluit wat dit is wat saam met hom of haar op hul lewenspad moet wandel.

Covid-19, hierdie generasie is geskep vir ’n kosbare missie, en ons hét wat nodig is om sterk te staan in enige krisis of katastrofe!. Nina Moggee (16) is ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Paarl enbeplan om ná skool biomediese ingenieurswese te gaan swot.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article