Tiener van Klein Nederburg Sekondêr sterf skielik

Die ontydige dood van die 17-jarige Damian Julies is soos ‘n vuishou in die maag van sy ouers en broer asook vriende en familie. Dié gr.10-leerder van Klein Nederburg Sekondêr […]

Damian Julies. Credit: Verskaf

Die ontydige dood van die 17-jarige Damian Julies is soos ‘n vuishou in die maag van sy ouers en broer asook vriende en familie.

Dié gr.10-leerder van Klein Nederburg Sekondêr is verlede Maandag (17 Maart) oorlede nadat hy ‘n maagvirus opgedoen het, het sy ouers, Riaan en Marion Julies, bevestig.

Volgens Marion het Damian ‘n week voor sy dood nog skool toe gegaan en was hy piekfyn. Verlede Saterdagoggend, onthou Marion, het sy vir hulle twee ‘n lekker ontbyt aanmekaargeslaan en vir Damian gewys hoe om pannekoeke dunner te maak, omdat syne bietjie dik uitkom en moeilik rol.

“Hy het vier pannekoeke opgeëet met ham polony en die bacon wat ek gesmoor het. Die Sondagoggend het ons kerk toe gegaan en ná kerk het ek potjiekos gemaak. Hy was verskriklik lief vir mielies.

“Hy het ‘n lekker bord kos geëet en toe nog ‘n blikkie ingelegde vrugte gaan uithaal en daarvan ook nog ‘n bietjie geëet. Sy maag het Maandag (17 Maart) in die vroeë oggendure begin werk, maar hy het nog beweeg. Damian is toe nie skool toe nie en ek het gaan werk. Hy het nog gedurende die dag na die winkel gestap om vir hom ‘n energiedrankie te koop.

“Toe ek so 13:30 van die werk af kom, toe sit hy hier buitekant by die plekkie langs die huis wat ons ingerig het, waar ons kan sit en leer. Ek was baie betrokke by sy skoolwerk. Ons het ‘n opblaasbed gehad en ons het hom daar laat lê. Die aand so ná 19:00 het hy vir my gevra hy wil net so ‘n bietjie alleen wees. Hy was geneig om agter die huis te gaan staan en daar het hy altyd so alleen met die Here gepraat.

“Sowat twee minute nadat ons hom gelos het, het hy net inmekaargesak. Ek en sy broer, Nicolas, het hom opgetel en ingebring en op die opblaasmatras binne neergelê.”

Marion vertel sy het toe by haar seun gaan lê en vir hom ‘n roosterbroodjie gegee, wat hy tot in die helfte geëet het.

“Ek kon sien hy sukkel om die broodjie af te kry. Ek het toe vir Damian op sy sy gedraai en hy het ‘n roggelgeluid gemaak. Hy was baie swak en ons het toe besluit ons gaan hom hospitaal toe neem. Toe ons tussen die Klein Parys-begraafplaas en die Paarl-polisiekantoor in Markstraat ry, toe klop my man aan die venster van die bakkie en hy sê vir my ‘hy is klaar weg’.”

Die Julies-egpaar het Maandag (24 Maart) met ‘n dokter gesels wat aan hulle verduidelik het wat met Damian gebeur het.

“Die suurstof wat na sy hart toe moes gekom het, was te min en sy hart kon dit nie vat nie. Sy hart het toe ingegee.

“Dit was as gevolg van die maagvirus en die erge pyne wat hy gehad het, want hy het mos nou nie soos [gewoonlik] geëet nie.”

Marion beskryf Damian as ‘n “merkwaardige seun wat dinge in die toekoms kon gesien het”, en een met ‘n terggees, wat haar ook gereeld geterg het.

“Sy glimlag sal ek nooit vergeet nie. Hy wou graag ná skool by die weermag aansluit.”

Pa Riaan vertel op sy beurt dat hy Damian sal onthou vir die stil mens wat hy was en iemand wat baie lief was vir kosmaak.

“Wanneer hy van sy vriende af gekom het, sou hy die laptop uithaal en dan kom lê hy by my want ek moet saam met hom ‘n fliek kyk. Dan het hy met sy kop op my bors kom lê, en ek moes sy ore vryf of met sy hare speel,” sê Riaan.

Damian is die afgelope Sondag (23 Maart) ter ruste gelê.

“Die kerk was stampvol. ‘n Mens sou sweer hy was ‘n groot man. So ‘n tipe kind was hy – ‘n silent influencer.”

Die skool het Maandag ‘n gedenkdiens vir Damian gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.