’n Bendebakleiery het Sondagoggend net ná middernag groot oproer in Wellington veroorsaak waarin ’n 14-jarige seun deur die polisie in hegtenis geneem is.
Die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, sê dié bakleiery onder bendelede het omstreeks 00:08 in Pelikaanstraat uitgebreek.
“Ons het verskeie oproepe oor die voorval van die publiek ontvang. Die 14-jarige is tydens die voorval in hegtenis geneem op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.”
Barkhuizen bevestig dat die tiener ’n bendeverwante verdagte is. Die seun het Maandag in die hof verskyn.
Hy het genoem dat ingevolge die Wet op Strafoplegging van Kinders (Wet 75 van 2008), mag kinders onder 12 jaar nie meer deur die polisie in hegtenis geneem word nie.
“Die wetgewing het onlangs verander. Waar die ouderdom voorheen beperk was tot 10 jaar, het dit nou verander na 12 jaar.”
Toe Barkhuizen gevra is oor maniere waarop kinders onder 12 dan strafregtelik gevonnis word, sê hy: “Die kinders word na ’n maatskaplike werker vir konsultasie verwys.”
Hy sê die sporadiese voorvalle van bendebakleiery het die afgelope maande in ’n sekere gebied voorgekom. Die meeste voorvalle vind oor naweke plaas.
“Bendegroepe wissel, waarvan tot 50 mense in soortgelyke voorvalle al betrokke was.”. In onverwante nuus is meer as 20 mense die afgelope maand uit verskillende gevangenisse in die Wellington-omgewing vrygelaat.
“Gevangenes word gereeld op parool vrygelaat as hulle ’n sekere deel van hul straf uitgedien het,” verduidelik Barkhuizen.
Dit wek ook kommer by die stasiebevelvoerder aangesien dit tot toenemende misdaad in Wellington, bydra. “Met die vrylating styg die gevalle van huisbrake, diefstalle uit motorvoertuie en algemene diefstalle so te sê oombliklik. Straatrowe neem ook toe.”. A gang-related fight broke out in Pelikaan Street, Wellington, early on Sunday morning which led to the arrest of a 14-year-old teen on two charges of possession of an unlicensed firearm.

