Die Drakenstein-span is: Voor, van links: Dr. Johan Leibbrandt (stadsbestuurder) en Stephen Korabie (die burgemeester). Agter is Bradley Brown (finansiële hoof), Cindy Lategan (senior bestuurder vir finansies) en Gert Combrink (die onderburgemeester).Foto:


Beide die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het vir die 2023-’24-boekjaar uitstekende prestasies behaal deur skoon oudits van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika te ontvang.

Die KWDM het sy elfde skoon oudit in ’n ry ontvang, wat sy verbintenis tot deursigtige finansiële bestuur, interne kontroles en effektiewe dienslewering bevestig. Volgens die uitvoerende burgemeester, dr. Elna von Schlicht, is hierdie uitslag ’n bewys van integriteit en uitnemendheid.

Die munisipale bestuurder, Henry Prins, het ook sy trots uitgespreek oor die prestasie en beklemtoon dat elke projek, hoe groot of klein, met dieselfde toewyding en doeltreffendheid aangepak word. Die sukses van die KWDM versterk sy reputasie as ’n vennoot in ekonomiese groei en gemeenskapsontwikkeling.

Die DM het sy sesde opeenvolgende skoon oudit en 17de ongekwalifiseerde oudit sedert 2011 ontvang. Ten spyte van uitdagings soos storms en politieke veranderinge, het die munisipaliteit sy fokus op finansiële dissipline en goeie bestuur behou.

Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester, het die prestasie aan die munisipale span se toewyding toegeskryf en spesiale dank aan die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, en die finansiële hoof, Bradley Brown, uitgespreek.

Beide munisipaliteite se skoon oudits dien as bewys van hul toewyding tot verantwoordelike bestuur van openbare finansies en hul fokus op dienslewering aan gemeenskappe.

. Wanneer ’n munisipaliteit ’n skoon ouditmening ontvang, beteken dit dat sy finansiële state en prestasieverslag ’n deursigtige en geloofwaardige weergawe gee van sowel sy finansies as sy prestasie teenoor diensleweringsteikens. Met ander woorde, hierdie verantwoordingsverslae bied ’n betroubare prentjie van die munisipaliteit se prestasie – of dit nou goed of sleg is. Dit stel die raad, gemeenskappe, gemeenskapsorganisasies en die nasionale en provinsiale regering, wat toesig hou oor die munisipaliteit en ondersteuning bied waar nodig, in staat om die munisipaliteit se prestasie te beoordeel en op te tree indien nodig.

’n Skoon ouditmening beteken ook dat die munisipaliteit aan die belangrike wetgewing wat op hom van toepassing is, voldoen het en dat oortredings, indien enige, skaars of van geringe aard was.

’n Skoon oudit is egter nie altyd ’n aanduiding van goeie dienslewering nie en hou nie altyd direk verband met die lewenservaring van al die gemeenskappe in ’n munisipale gebied nie. Tog bied ’n skoon ouditmening aan ’n munisipaliteit die geleentheid om op ’n deursigtige wyse met gemeenskappe te kommunikeer oor of en wanneer hul behoeftes aangespreek sal word. Dit word moontlik gemaak deur akkurate rekords wat ook ingeligte besluite deur die verskillende rolspelers in die verantwoordingsisteem vergemaklik.

You need to be Logged In to leave a comment.