Vanjaar maak Thuli Madonsela, professor en direkteur van die leerstoel vir sosiale geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), litte los vir ’n uitdaging wat volharding en toewyding verg – die Pelgrimstog van Hoop. Sy is vasbeslote om ’n roete van 300 km van Stellenbosch tot Kaap Agulhas te stap om geld in te samel vir #Action4Inclusion, ’n inisiatief wat daarop ingestel is om historiese skuld wat in die pad van studenteregistrasie staan, uit te wis.

Die Pelgrimstog van Hoop, ’n gewilde netwerk staproetes in die Wes-Kaap, simboliseer die moeilike reis wat party studente moet aandurf om toegang tot opvoeding te kry.

Die ekspedisie vertrek oor die naweek van 19 en 20 Augustus 2023 en gaan dan vir 13 opeenvolgende dae voort tot in Oktober.

Die tog begin in Stellenbosch, wanneer Madonsela op Saterdag 19 Augustus 15 km aflê tot in Pniël, en die volgende dag 20 km vanaf Pniël tot in Franschhoek. Hierdie ervaring word aangebied in samewerking met Visit Stellenbosch en die Pelgrimstog van Hoop.

Mense wat belangstel om deel te neem, is welkom om by Madonsela en ander besielende leiers en entrepreneurs aan te sluit om onder meer hierdie projek van stapel te stuur.

Kaartjies kos R600 per dag en sluit logistieke ondersteuning, ’n hoed, peuselhappies, tradisionele roosterkoek vir middagete en vervoer terug na die beginpunt in, plus ’n stewige bydrae tot #Action4Inclusion.

Elke tree wat Madonsela op hierdie reis neem, verteenwoordig ’n tree vorentoe vir ’n toekoms waarin opvoeding ’n reg is, nie ’n voorreg nie.

Die US se #Action4Inclusion en die Pelgrimstog van Hoop demonstreer die krag wat kollektiewe optrede het om kwessies van sosiale geregtigheid op te los en verandering in opvoeding voort te dryf.

#Action4Inclusion is ’n inisiatief van die US om finansiële hindernisse in opvoeding uit die weg te ruim.

Die spesifieke manier waarop hierdie inisiatief dit doen, is deur historiese studieskuld uit te wis en sodoende meer studente in staat te stel om te registreer en hul opvoedkundige drome na te streef.

. Plekke in die pelgrimstog is beperk, daarom word belangstellendes versoek om vroegtydig op Quicket te bespreek, met die QR-kode op die reklamemateriaal of by die skakel https://qkt.io/Thuli

. Besoek matiesalumni.com/action4inclusion/ of kontak S’thabile Duma by 21934002@sun.ac.za of 065 279 5506 vir nog inligting oor dié plaaslike pelgrimstog.

You need to be Logged In to leave a comment.