Thomas Chowles, die afrigter van die Boland-rugbyunie (BRU) se vrouespan, voer aan die onlangse beweringe teen hom op sosiale media wat hom as rassisties uitbeeld, “is bog”.
Chowles het verlede week in die kruisvuur beland nadat ’n video waar hy na bewering water op ’n vrouespeler spoeg, op sosiale media versprei is.
Dié voorval het reeds in Maart vanjaar tydens ’n spanbousessie plaasgevind, waar dit blykbaar op video vasgevang is.
Dit is toe wyd en syd gedeel, waarna mense hul stemme in die kommentaar dik gemaak en Chowles as ’n “rassis” uitgebeeld het.
Die afrigter is ook van mening dat die voorval “uit konteks” gehaal is.
Dít was luidens ’n telefoniese gesprek met hom.
Die video is intussen vanaf sosiale media verwyder.
In die video van 52 sekondes, wat die Paarl Post onder oë gehad het, vra Chowles vir ’n rugbyspeler in ’n oranje T-hemp watter geluid ’n “kat” maak, waarna die vrou soos ’n kat miaau.
Daarna vra hy die speler watter geluid ’n hond, ’n koei en ’n leeu maak, waarna die rugbyspeler elke geluid probeer naboots waar sy saam met haar afrigter en twee van haar spanmaats om ’n tafel gesit het.
Daarna het Chowles die vrou gevra “hoe ’n walvis maak”, waarna hy ’n sluk water geneem en dit in die rigting van die rugbyspeler gespoeg het om na te boots hoe walvisse vloeistof uit hul blaasgate uitstoot.
Chowles het immers telkemale tydens die telefoonoproep met die Paarl Post herhaal dat dit net ’n “onskuldige grap” was wat op sosiale media “buite konteks” aanskou is.
Tydens die oproep het hy ook aangevoer dat geen amptelike klag by die Boland-rugbyunie of die Suid-Afrikaanse polisiediens gelê is nie.
Volgens Quintin van Rooyen, uitvoerende hoof van die BRU, word die inhoud van die video intern ondersoek, en sal die unie kommentaar lewer nadat die ondersoek afgehandel is.
’n Tydlyn vir dié ondersoek is egter nie deur Van Rooyen bekendgemaak nie.
DiePaarl Post het na die rugbyspeler uitgereik, wie nie kommentaar oor die voorval wou lewer nie.
Haar identiteit is aan die koerant bekend, maar word ingevolge regsadvies weerhou.