Theo Kemp, die bekwame en gewilde bestuurder van die Breytenbach-sentrum op Wellington, het aangekondig dat hy ná tien jaar sy dienste as bestuurder gaan beëindig.

In dié tyd het hy gesorg dat Wellingtonners, wat nie altyd gelyke geleenthede ontvang het nie, met groot sukses kon deel word van die sentrum se daaglikse programme.

Hy het ook gesorg dat sy bekwame personeel bygedra het dat die vertonings wat by die Bôrdienghuis – die sentrum se teaterkafee – met toenemende entoesiasme en naweek ná naweek deur Wellingtonners bygewoon word.

Die toenemende gewildheid van die kunsuitstallings wat deur die personeel by die Breytenbach-galery aangebied word, het in die afgelope ses maande tientalle kunsliefhebbers na die galery laat stroom.

Dit was veral omdat elke uitstalling die agtergrond gevorm het van reekse interessante en stimulerende besprekingsprogramme wat in die galery aangebied is.

Die boekwinkel, wat as ’n onafhanklike entiteit, as deel van die sentrum bedryf word, het ook oor die afgelope paar jaar ’n belangrike trekpleister geword wat besoekers van oral oor na die sentrum laat stroom het.

Volgens die Breytenbach-stigting, die beheerliggaam van die sentrum, het Kemp bedank omdat hy met ’n tweede boek besig en dat dié taak sy volle aandag in die komende maande gaan verg.

Die Breytenbach-sentrum wil voortbou op die hoekstene wat Kemp gelê het en glo dat hy in die toekoms steeds in ’n onafhanklike hoedanigheid sal wil voortgaan om deel te bly van die Wellingtonse kultuurgemeenskap asook die aktiwiteite van die sentrum.

You need to be Logged In to leave a comment.