“The hills are alive with the sound of music . . .”
Dié tydlose refrein uit een van die gewildste musiekblyspele ooit gaan in Mei in die skoolsaal van die Hugenote Hoërskool in Wellington klink.
Die Hugenote Hoërskool het die regte bekom om Richard Rodgers en Oscar Hammerstein se geliefde musiekblyspel The Sound of Music vir Bolandse gehore op die planke te bring. Die regie word behartig deur Liandé Strömbeck en André Terblanché en Nicolene During sal die choreografie hanteer.
Vir slegs vier vertonings, van 8-11 Mei, kan gehore deel in die betowering van tydlose treffers soos Edelweiss, My Favourite Things, Climb Every Mountain en Do-Re-Mi.
Die bekende storie van Maria en die Von Trapp-kinders is die eerste keer in November 1959 in Broadway opgevoer – en sedertdien reg oor die wêreld heen.
In 1965 het die filmweergawe, met Julie Andrews in die rol van Maria, met vyf Oscar-beeldjies weggestap.
Hugenote Hoërskool het in Mei verlede jaar groot sukses behaal toe Beauty and the Beast meer as 1 500 mense na die skool gelok het.
Die rolverdeling bestaan uit 50 lede, onder andere Megan de Waal (Maria), Stephan Lombaard (Kaptein Von Trapp) Martin du Plessis (Max) en Wina Smit (Liesl).
Die bekende operasangeres, Adri Louw word ingespan as Mother Abbess.
Wat die musiek betref, kan gehore uitsien na ’n simfonieorkes met 26 lede, wat strykers, blasers en slagwerk insluit.
Kaartjies vir
The Sound of Music kos R60 (kinders) en R90 (volwassenes) en is by Hugenote Hoërskool te koop.
Die gala-aand is op 11 Mei. Kaartjies vir die saal kos R200 per persoon en sluit ’n driegangete in. Galerykaartjies is steeds te koop teen die normale prys.
Vir verdere navrae oor die produksie, kontak Johann Enslin by 021 873 2111 of jenslin@hugenoteskool.co.za