Ek weet steeds nie hoekom my jaarlikse vakansieplanne vanjaar so ’n vreemde reaksie by my kinders ontlok het nie, want met my vyftien jaar ongevraagde alleenstatus is ek genoodsaak om oral alleen te ry. So by so ry ek nie vir elke hawerklap nie. Tyd is te kosbaar en brandstof onbekostigbaar. Verderaan is enige gegewe oomblik op die pad ’n risiko, want die meerderheid padgebruikers is outomatiese moordmasjiene. Dalk is dit die rede vir die kinders se skeptisisme? Of het hulle skielik onthou ek is tagtig?
Wat ook al die rede, hulle ken my meer as vyftig jaar en ek was nog nooit ’n gevaar op die pad nie, ook nie ’n ongeluk gemaak of veroorsaak nie. My jaarlikse ry na my Boesmanlandse geboortegrond toe was nog nooit ’n probleem nie. Al wat anders was hierdie keer, is dat Raaitjie, my tannie wat my junior is, wou saamgaan. Middelkind wou weet wie gaan ry en met watter kar. Ek ry altyd en het net een kar. Die skynbaar nuwe feit laat hom vir ’n tyd lank veelseggend bo-oor sy brilraam na my kyk; onderwerp afgehandel.
Hopzing het my verbyster. Sy vra eers: “Weet Bederfie al?” Op my “nee” bid sy met eerbiedig gevoude hande: “Liewe Here, asseblief, laat my ma tot op die end nog self ry. Here, as sy nie meer self kan ry nie, sal ek haar orals moet vat, want Middelkind sal sê hy werk en Bederfie sal sê hy is op Oudtshoorn. Amen.” Niks van veilig ry of lekker kuier nie, maar slegs ongevraagde raad: “Ma, ry net stadig en hou op ma se kant.” Goeiste! Het ek hulle nie, op Dries se versoek, leer bestuur nie en het hulle nie moeiteloos hul lisensies gekry nie?
My 77-jarige broer se reaksie op my kinders se siening was tegelykertyd humoristies én gerusstellend. “Ons sal weet wanneer ons moet ophou bestuur. Dis wanneer ons al oor drie rooi robotte gery het, ’n voetganger op die sypaadjie getref het en soms aan die verkeerde kant van die pad ry.”
Aan niks hiervan is ons skuldig nie en Raaitjie se kinders WhatsApp: “Doen dit net op die beproefde manier. Bid daaroor en tree verantwoordelik op en geniet.”
Ons het net so gemaak. Van ons vertrek op ’n sonnige Saterdagoggend, tot ons tuiskoms ná 1 168 kilometer. Die natuur het oral geskitter en met oorgawe die groen van die landbouer se arbeid gewys en vir ’n bonus, plate veldblomme oral.
Die enigste stop was Van Rhynsdorp vir gruwelik duur brandstof. Kerkstraat vat ons dorp-uit, verby die grootste gebou in die dorp. Dis massief met kléin venstertjies in hoë grys mure wat bokant die meters hoë veiligheidsheining uitsteek. Makie saak waar jy in Suid-Afrika is nie, oral word jy gekonfronteer met konkrete bewyse van ’n mislukte demokrasie.
Ons naweekkuier op Loeriesfontein is vooruit gereël met baie en verskillende afsprake op die dorp waar ek 73 jaar gelede sub A begin het en waar Raaitjie-hulle 50 jaar gebly het. Na alle kante toe was dit goed vir almal. Ek het weer besef hoe belangrik dit is om deur jou wandel in hierdie lewe die regte spore te trap. Dié soort spore waai nie toe nie.
So bly ons toe gratis die naweek in die gastehuis. Die eienares het gesê dis omdat ons so baie plesier vir almal verskaf het.
My hart was die meeste geraak deur die spesiale Saterdagaand-braai by my enigste oorlewende seuns-klasmaat. Ons het saam in 1952 daar in sub A begin. Op die spesiale uitnodiging is benadruk dat ons nie ’n minuut later as sesuur daar moet wees nie, want ons is baie jare se gesels agter. Dit was ’n vreugdevolle weersiens vir ’n baie nodige kuier. Ons is lank ná middernag daar weg. Dit was ’n hartseer groet, want die lewe het vir hulle baie houe uitgedeel.
Sondagoggend kerk toe en agterna gekuier rondom die tee en koffie wat agterin in die kerk verskaf word. Bekend (en meestal onbekend) vir my het kom groet en wat ’n groot vrolikheid! Selfs die predikantspaar kom stel hulle aan ons voor. Natuurlik staan tyd stil en toe die koster kom vra dat ons asseblief moet uitgaan omdat hy wil sluit, was die gesels nog nie klaar nie.
Daarna het ons, voel my, vir elke lewende siel wat in die dorp woon, ’n “vinnige” hallo gaan sê en eers donkeraand teruggekom by die gastehuis. Maandagoggend se 200 km plaas toe was gou verby en so ook die plaaskuier. Dit is altyd besonders vir my om in dieselfde kamer te slaap waar ek tagtig jaar gelede my ouers wakker geskree het. Lekker was dit ook om ná vyf en sestig jaar weer saam met my broer op ons pa se Java-motorfiets, wat hy in 1953 gekoop het, te ry.
Ons familie maak altyd “memories” wanneer ons by mekaar is. Ek is jammer vir hulle wat nie bevoorreg is om in ’n liefdevolle familiestruktuur groot te word nie. Dis belangrik vir ’n gesonde gemeenskap en suksesvolle land. Arm Suid-Afrika.