As ’n mens die Paarl inry van die Florida Padstal se kant af in Hoofstraat in, ry jy verby ’n pragtige plaas aan jou linkerkant met die bordjie “Tea under the Trees”. Dit is die plaas waar SCB Smit gebore is. Sy was ’n nooi Redelinghuys.
SCB en haar man Gawie het hulle in Wellington gevestig op die plaas Welvanpas langs die Perdeskoenpad. Sy is ’n voortvarende vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie en sy het haar gou gevestig as iemand wat planne maak en uitvoer. Vandag is sy steeds bedrywig, ten spyte daarvan dat sy reeds in haar tagtigerjare is.
Onder leiding van die Vriende van Wellington-museum en ook Wellington-museum, het SCB op 16 Maart ’n oggendtee by die museum bygewoon. Slegs ’n uitgesoekte groepie mense is genooi om die oggend saam te verkeer. Omdat SCB Smit so baie stories het om te vertel, is sy gevra om haar rol in die stigting van ’n toerismekantoor in Wellington te bespreek.
As voorsitter van die Komitee vir Toerisme van die Wellington Ontwikkelingsvereniging is daar deur haar toedoen op 27 Maart 1984 die grondslag gelê vir toerisme in Wellington. Dit het uiteindelik gelei tot ’n volwaardige inligtingskantoor in 1992 met ’n volwaardige toerismebeampte.
SCB was verder verantwoordelik vir verskeie belangrike en suksesvolle projekte in Wellington. Besondere hoogtepunte was die hou van ’n belangrike en suksesvolle Bainskloof Simposium oor verskeie aspekte van Bainskloof waar ’n groot aantal kundiges en belanghebbendes bymekaar gebring is.
Geskiedkundige bakens is gemerk met naamborde en bome is langs die pad aangeplant.
Die Bergrivier-piekniektreine na Wellington met ongeveer 700 gaste op ’n keer het gereeld gaste na Wellington gebring en is in die destydse Pinnie Joubert-woonwapark onthaal, vermaak en op bustoere geneem om die dorp en omgewing te besigtig.
In 1988 het SCB die Wes-Kaap Toerismevereniging gelok om sy streeksvergadering na Wellington te bring. Sy en haar span het vir die eerste keer besoekerspamflette en poskaarte van Wellington die lig laat sien.
Geskiedkundige staproetes is bekendgestel, vlooimarkte is begin en bome is op die sypaadjies aangeplant. En dan was daar die wonderlike Patatskloof-voetslaanwandelpad, maar ongelukkig bestaan dié nie meer nie.
Verder is privaatpersone daadwerklik aangemoedig om losies in die vorm van bed-en-ontbyt gastehuise tot stand te bring. Vandag is hierdie ’n florerende bedryf in Wellington.
Dis op hierdie stewige fondament waar daar voortgebou kon word. Dit was dus geen verrassing dat die Toerismeburo destyds die MTN-toekenning ontvang het nie vir die Beste Opkomende Toerismeburo in die Wes-Kaap.