Suid-Afrika, insluitend die Drakenstein, ervaar tans ’n tekort aan slangbyt-teengif weens die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) wat vertragings met die vervaardiging van die teengif in die gesig staar.
Volgens ’n persverklaring deur NHLS, gedateer 7 Desember 2024, is die laboratorium weens opgraderings aan hul geriewe nie daartoe in staat om nuwe teengif te produseer nie. Dit het tot die uitputting van al hul reserwes gelei.
“Die NHLS het ’n opknappingsprojek vir SAVP se geriewe begin om produksiedoeltreffendheid te verbeter. Die inisiatief beoog om vorige bekommernisse wat met masjienonderbrekings verband hou, wat meestal veroorsaak is deur verouderde toerusting en onvoldoende infrastruktuur, die hoof te bied,” lui die persverklaring.
Volgens die staatsbeheerde gesondheidslaboratoriumdiens is die opknappings voltooi en kan die produksie van teengif eersdaags voortgaan.
Michéle Clarke, die DA se woordvoerder van die portefeuljekomitee van gesondheid asook ’n lid van die parlement, het tydens ’n virtuele portefeuljekomiteevergadering oor gesondheid op 6 Maart die stem dik gemaak oor die tekort aan teengif.
Volgens Paarl Post se WhatsApp-gesprek met haar was die vergadering nie oor die teengif-kwessie nie, maar nadat dit as besprekingspunt deur die NHLS genoem is, het die DA “die geleentheid gebruik om hulle [die NHLS] ook oor die teengif-tekort te pols”.
“Ons [die DA] is nie tevrede met die antwoorde nie en gaan vra dat die NHLS, die Suid-Afrikaanse entstofprodusente (SAVP) en die departement [van gesondheid] so gou as moontlik terugkom komitee toe om spesifiek oor die tekort verslag te doen,” het Clarke gesê.
“Die NHLS moet ook rekenskap gee aan die vermelde tekorte [aan teengif] in hospitale en wat gedoen word om dit die hoof te bied,” lui ’n persverklaring wat deur Clarke uitgereik is.
Luidens dié persverklaring is die tekort nie uitsluitlik weens opgraderings nie, maar ook beurtkrag, wat ’n demper op produksie geplaas het.
Clarke het gesê beurtkrag was amper ’n “daaglikse realiteit vir bitter lank”.
“Ons [die DA] wil verstaan hoe dit kan gebeur dat só belangrike fasiliteit geen teenvoeters [alternatiewe krag] daarteen kon hê nie.”
Suid-Afrika ervaar jaarliks ongeveer 4 000 slangbyte, met ongeveer 900 hospitaalopnames en 100 pasiënte wat teengif benodig.
Volgens Eduanne Niemand, ’n bekende slangvanger in die Drakenstein-vallei, word die uitwerkinng wat die tekort aan slangbyt-teengif inhou, oordryf.
Hy het verduidelik in die geval waar die Paarl-hospitaal of die Mediclinic Paarl nie teengif aanhou nie, kan die pasiënt deur ’n respirator aan die lewe gehou word terwyl die teengif van ander hospitale af gekoerier word.
Dít geld veral in die geval van ’n slangbyt deur ’n Kaapse kobra, wat neurotoksiese gif het, en die vermoë om natuurlik asem te haal, verswak.
Volgens Leensie Lotter, ’n waarnemende woordvoerder van die Paarl-hospitaal asook die Weskus- en Overbergdistrik as deel van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is die Paarl-hospitaal die enigste staatshospitaal binne die Drakenstein-munisipaliteit wat teengif aanhou en administreer.
Lotter het verduidelik die naaste staatshospitale buite die Drakenstein-munisipaliteit sluit in die Stellenbosch-hospitaal en die Swartland-hospitaal in Malmesbury.
“Voldoende slangbyt-, skerpioen- en spinnekop-teengif is egter tans by die Paarl-hospitaal in voorraad en die voorraad word opgevul sodra dit gebruik is.”
“Tussen Januarie 2024 en Januarie 2025 is vyf gevalle van slangbyt by die Paarl-hospitaal aangemeld, [met] geen toename in hospitaalopnames of sterftes [wat] in die laaste jaar aangemeld [is] nie.”
Volgens Lotter kon alle slangbyt-gevalle by die Paarl-hospitaal die afgelope jaar suksesvol behandel word.
“Teengif-dosisse word gewoonlik beperk weens die kort rakleeftyd en hoë koste per dosis.”