Die organisasie wat gemoeid is met die opstel van ’n omgewing-impakstudie vir die beoogde verbrandingsoond wat vir Wellington en die Drakenstein-munisipaliteit beplan word, het hulle op ’n onlangse openbare vergadering op Wellington teen hewige reaksie van die kant van Wellingtonse inwoners vasgeloop.
Slegs een van die aanwesige Wellingtonners het die mening uitgespreek dat die voorleggings wat deur DEIR, die opstellers van die impakstudie, wel meriete het en dat die voorlopige resultate positief lyk.
Al die ander Wellingtonners, wat feitlik deur die bank ondersteuners is van Drakenstein Environmental Watch (DEW), die organisasie wat teen die oprigting van die oond gekant is, het heftig beswaar teen die oprigting van so ’n oond uitgespreek en die mening ondersteun dat hierdie verbrandingsoond Wellingtonners se drome om hul dorp tot ’n nuwe toeriste-mekka te ontwikkel, finaal sal kelder.
Allen Harris, ondervoorsitter van DEW, sê dat die Drakenstein-munisipaliteit en hul adviseurs nie altyd die ware feite voor die vergadering lê nie.
Daar is aan die vergadering gesê dat die oond wel 50 meter die lug in sal toring maar dit sal nie vanaf Wellington se woonbuurte sigbaar wees nie. Harris het met foto’s bewys dat die toring duidelik vanuit die dorp sigbaar sal wees.
Daar word volgens DEW se lede nie duidelik gesê of die oond wel gifstowwe oor die dorp en omgewing sal uitblaas nie. Daar word wel gesê dat die uitlaatgasse wat uitgeblaas word, minder as 2% giftig sal wees. DEW se lede voer aan dat indien die volume as wat uitgeblaas word baie klein is, sal die uitwerking van die gifgasse laag wees maar die feite is dat groot volumes verbrande gas uitgeblaas gaan word wat die gevaar vir Wellington se mense en die omgewing dramaties laat verander.
DEW hou vol dat ’n verbrandingsoond nie die regte oplossing vir Drakenstein is om van afvalstowwe ontslae te raak nie. Daar is volgens hulle baie beter alternatiewe metodes, een daarvan is Zero Waste, ’n projek wat met groot sukses in Amerika toegepas word en wat nie alleen van afval ontslae raak nie, maar wat ook geleenthede vir werkskepping bied.
Op die vergadering was daar juis ’n groepie werkers wat by ’n plaaslike Zero Waste-projek besig is en wat saam met die lede van DEW heftig beswaar gemaak het teen die voorgestelde verbrandingsoond.
Die lede van DEW is vasbeslote om alles in hul vermoë te doen om die oprigting van die oond te stuit. Hulle is selfs bereid om hof toe te gaan as dit moet.