Ilse Verster, skrywer van So lyk ’n vrou, praat oor dié boek en haar lewe van mishandeling by Rusoord se Boekedag.


As geldinsamelingsprojek hou Rusoord, ’n tehuis vir bejaardes in Paarl, vanjaar ’n spog high tea en Boekedag by Grande Roche, met Ilse Verster, die skrywer van So lyk ’n vrou, as gasspreker.

Rusoord is ’n geregistreerde residensiële fasiliteit sonder winsoogmerk vir bejaardes en kan 24-uur versorgingsdienste aan tot 132 mense verskaf.

Die tehuis streef daarna om bekostigbare versorgingsdienste aan sorgbehoewende ouer mense beskikbaar te stel.

Tans huisves Rusoord 67 ouer mense wat ’n inkomste van R3 500 of minder per maand verdien. Hulle is nie in staat om die volle R8 426 per inwoner per maand vir hul verblyf en versorging te betaal nie.

Hoewel Rusoord gedeeltelike finansiële ondersteuning van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang, is dit nie voldoende om die tekort op die koste van bogenoemde mense te finansier nie.

Die maandelikse subsidie wat van die departement van maatskaplike dienste ontvang word, dek slegs 14,5% van die maandelikse bedryfskostes van die tehuis.

Gevolglik is Rusoord aangewese op die welwillendheid van individue en instansies om in die versorgingsbehoeftes van die bejaardes te voorsien.

Die geleentheid begin om 09:30 vir 10:00 en duur tot 13:30. Die koste is R350 per persoon. Bring ook jou beursie saam, want daar sal allerlei boeke te koop wees.

. Skakel 082 808 1114 of e-pos eunice@differentevents.co.za vir meer inligting en besprekings.

You need to be Logged In to leave a comment.