Raadslede wat glo op ’n neerhalende manier na swart mense verwys en die beweerde toesmeer van onreëlmatighede is van die redes hoekom Linda Landu, ’n DA-raadslid van die Drakenstein-munisipaliteit, besluit het om die party te verlaat.
Koos Steyn, die DA se leier in die westelike-streek, wat Drakenstein insluit, het Landu se bedanking Maandag (10 Februarie) in ’n verklaring bevestig.
Volgens Steyn is die DA geensins onkant betrap deur die nuus nie en gesê dit spruit uit ’n tugverhoor waardeur sy in die gesig gestaar sou word nadat sy glo by ’n saamtrek van ’n ander politieke party gesien is.
Landu het egter vandeesweek telefonies aan Paarl Post gesê sy is nooit oor die tugverhoor verwittig nie en dat die geleentheid wat sy bygewoon het, ’n kerkdiens was en nie ’n politieke saamtrek nie.
Volgens haar het die “politieke onstabiliteit en verdeeldheid” binne die DA-koukus haar nie meer tuis laat voel nie.
“Ek is nou al vir amper 15 jaar in die politiek. waarvan ek bykans 10 jaar aan die DA in Drakenstein afgestaan het.
“Dinge het egter met die hele Conrad Poole-storie begin skeefloop toe raadslede by sy beweerde bedrog betrek is. Daar was ’n mosie om van hom ontslae te raak en DA-raadslede het ook vir sy verwydering gestem.
“Dit is waar die verdeeldheid en binnegevegte begin het. Daar was ’n heksejag om uit te vind wie die raadslede was wat met die opposisie saamgestem het. Tot vandag toe heers daai wantroue nog in die party,” het Landu gesê.
“Dit het twee keer gebeur dat raadslede na swartmense in die munisipaliteit as ‘bantoes’ verwys het. Dit is geuiter in die teenwoordigheid van leiers wat nie ’n vinger gelig en ’n poging aangewend het om hierdie raadslede tot orde te roep nie. As die enigste swart DA-raadslid is ek lelik in die gesig gevat.
“Op dieselfde vergaderings sou daar ook bewerings van onreëlmatighede wat deur raadslede gepleeg is, bespreek word. Net daar sou ’n beslissing gemaak geword word oor hoe die bewerings in die openbaar hanteer sal word.
“Wat tans in die party gebeur, is glad nie meer in ooreenstemming met my waardes en die rede hoekom ek die politiek betree het nie. Te veel goed word onder die mat gevee. Ek moes eenvoudig gaan.”
Landu het bevestig dat sy haar nou by die Patriotic Alliance (PA) aangesluit het.
“Ek is net ’n normale lid van die PA. Ek beklee geen posisies in die party nie. Ek is sedert die aankondiging oor my bedanking deur ’n aantal politieke partye genader, insluitend die ANC en die VF Plus.”
Sy was tot 2015 ’n ANC-raadslid in Mbekweni, waarna sy by die DA aangesluit het.