Taxi’s ‘is onbeskof’

Inwoners van Groenheuwel in Paarl-Oos het ’n punt bereik waar hulle keelvol is oor hoe sommige taxibestuurders hulle “stief” behandel, alhoewel hulle vir hul dienste betaal.


Inwoners van Groenheuwel in Paarl-Oos het ’n punt bereik waar hulle keelvol is oor hoe sommige taxibestuurders hulle “stief” behandel, alhoewel hulle vir hul dienste betaal.

Een van die inwoners, wat uit vrees vir sy/haar lewe nie geïdentifiseer wil word nie, meen dat taxibestuurders en hul guardjies (assistente) verskriklik onbeskof is.

Die bestuurders weier glo ook om pendelaars by aangewysde taxi-aflaaipunte in Groenheuwel af te laai.

“Dit gaan al die jare al so met die taxi’s wat so is met ons as die inwoners van Groenheuwel. Maak nie saak hoeveel keer ons vra waar hulle ons moet aflaai nie, hulle weier eenvoudig. Van die taxibestuurders meen hoekom moet hulle vir ons aflaai waar ons vra, want ons maak gebruik van Mbekweni-taxi’s.

“So ’n tydjie terug het hulle ’n ouerige vrou by die verkeersirkel by die nuwe mall daar by Groenheuwel afgelaai. Die vrou het ’n rugprobleem en loop sleepvoet. Sy moet reeds die week by die hospitaal wees vir ’n prosedure wat aan haar rug gedoen gaan word. Die taxibestuurder kon nie eens daai vrou met haar toestand in sien nie.

“Ons wil graag weet wat die probleem is, want so kan dit nie aangaan nie. Ons moet swaarkry as gevolg van hul houdings. En ook – dit is nie reg dat ons so behandel word omdat die taxibestuurders voel ons ry soms met die Mbekweni-taxi’s nie. Ons kan mos met enige taxi ry. Dis elke dag dieselfde ding en ’n mens het nie lus vir dit nie – veral nie as jy moeg uit die werk kom en jy moet gaan kos maak nie.”

Christopher Landsman, die voorsitter van die United Taxi Association Paarl, sê die probleem kom al jare aan.

“Die taxibestuurders sê hulle staan soggens in Groenheuwel, dan stap die mense verby hulle en gaan neem liewer ’n taxi van Wellington of Mbekweni. Saans dan wil mense die Groenheuwel-taxi neem en dan weier van die bestuurders om pendelaars af te laai waar hulle vra. Dis belangrik om te weet dat dit nie alle taxibestuurders is nie. Daar is gevalle waar die bestuurders onbeskof is met die mense en gevalle waar die mense onbeskof is met die bestuurders.”

Landsman meen dis belangrik dat pendelaars wat hierdie tipe behandeling ervaar, dit aanmeld.

“Mense moet skriftelike klagtes by unies indien, want anders gaan daar niks van die saak kom nie. Dis ook belangrik dat mense die besonderhede van die taxi kry, soos die nommerplaat en die bestuurder se naam. Ons gaan in die toekoms plakkers sit in die taxi’s met besonderhede oor hoe en waar die klagtes plaaslik ingedien kan word.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.