As inwoner van die Paarl wil ek net weet wat gedoen gaan word aan die taxi’s in Lady Greystraat.
Ek gebruik elke oggend die roete van Jan van Riebeeck-weg na Lady Greystraat om my kinders by die skool af te laai.
Die meeste van die oggende is die taxi’s ’n groot probleem. Hulle ry oor rooi ligte.
Hulle laai mense op en af net waar hulle wil. Hulle blokkeer die bane by Lady Grey Fisheries dat geen voertuie kan verbykom nie.
En so ook by Standard Bank. U-draaie word gemaak sonder waarskuwing.
As jy as padgebruiker op jou toeter druk, word handgebare gewys. Of jy word vieslik uitgeskel in mooi Afrikaans.
Hulle stel nie net die ander padgebruikers se lewe in gevaar nie, maar is ook ’n gevaar vir hulself.
As daar gekla word, is daar slegs verkeersbeamptes vir een oggend. Dan is dit ’n plesier om daar te ry.
Dit is egter die volgende dag weer dieselfde gemors.
Wetstoepassers ry net verby en kyk in ’n ander rigting. Ek weet nie wie se verantwoordelikheid dit is om reg en orde te handhaaf nie.
Of moet ons as padgebruikers maar gewoond raak aan die wetteloosheid? Geld die wette net vir sekere mense?
Ek is nie seker hoe om die probleem op te los nie, maar ’n tussentydse oplossing is vir die polisie of wetstoepassers om soggens tussen 06:30 en 08:00 die gebied te patrolleer en sigbaar te wees.

