Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) sê duisende leerders het verlede Maandag (21 November) en Dinsdag (22 November) skool gemis as gevolg van die taxi-staking wat deur die SA Nasionale Taxiraad (Santaco) afgekondig is.
David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê hoewel matrikulante ook deur die staking geraak is, het geen matrikulant, wat veronderstel was om op dié twee dae eksamen te skryf, hul sessies misgeloop nie.
“Maandag het 128 699 leerders in graad 1 tot 11 skool gemis, en Dinsdag nog 128 747. Die staking het dus 11% van die graad 1- tot graad 11-leerders twee dae se skoolopleiding gekos. Personeel is ook negatief geraak, met 2 435 personeellede wat werk Maandag en 1 965 Dinsdag gemis het. Die belangrikste is dat baie skole eksamens moes herskeduleer, wat die einde van die jaar hersiening, nasien en administratiewe prosesse by ons skole ontwrig het.
“Terwyl die Santaco-taxistaking ’n ernstige impak op die ander grade gehad het, het ons geen verslae ontvang van ’n kandidaat wat Maandag of Dinsdag ’n matriekeksamen misgeloop het nie.”
Maynier het verlede Donderdag gesê ’n voorlopige ontleding is gedoen: “Maandag is 354 lewenswetenskappe-kandidate deur die staking geraak, waarvan 297 by alternatiewe eksamensentrums geskryf het, en 57 het laat by hul aangewese sentrum aangekom, maar is nietemin die volle tyd vir hul eksamen gegun. Dinsdag is 415 geografie-kandidate deur die staking geraak, met 358 wat by ’n alternatiewe eksamensentrum geskryf het, en 57 het laat by hul aangewese sentrum aangekom, en is ook die volle tyd vir hul eksamen gegee.”
Charleston Hill Primêr het sy eksamens, wat oor die twee dae moes plaasvind, opgeskort omdat baie leerders nie vervoer tot by die skool gehad het nie. Die skool het toe sy eksamenrooster aangepas om almal te akkommodeer.
LK Zeeman Primêr sê hy kan nie leerders benadeel wat hul eksamen as gevolg van die staking misgeloop het nie. Leerders is toegelaat om hul vraestelle agterna onder die toesig van onderwysers te skryf.
- Taxi-operateurs reg oor die provinsie het gestaak weens hul taxi’s wat elke dag geskut word, swaar verkeersboetes en ook die Blue Dot-taxidiens-aansporingsprogram wat die Wes-Kaapse regering gister (30 November) beëindig het. Dit volg nadat die provinsiale regering gesê het hy het nie geld om die projek verder te finansier nie. Taxi-dienste is Woensdag hervat.

