Die vragmotor wat brood aflewer is Vrydagoggend (4 Augustus) geplunder in Mbekweni, Paarl.


Die paaie in die Wes-Kaap is tans soos ’n oorlogsterrein met verskeie insidente van geweld wat toegeskryf word aan taxi’s wat staak regoor die provinsie sedert Donderdag (3 Augustus).

’n Vragmotor wat brood aflewer is uit sy produkte geplunder in Mbekweni tussen Paarl en Wellington. AO Nceba Vanqa, woordvoerder vir die Mbekweni-polisie, het die insident bevestig.

Daar is verskeie videos wat ook die rondte doen hoe inwoners die vragmotor plunder en aan die brand steek. Wat nog meer verpletterend is oor die situasie, is dat inwoners voortgegaan het om die brandende vragmotor te plunder terwyl daar gesien kan word hoe die plaaslike brandweer probeer om die vlamme onder bedwang te bring. Leerders in hul skoolklere kan ook duidelik gesien word hoe hulle deel is van die plundery.

“Daar is ook gevalle waar motors binne die Mbekweni gebied met klippe gegooi word en die voorruit van die motors beskadig is. Tot dusver kan ons nog nie vasstel hoeveel motoriste geaffekteer is omdat daar nog mense is wat besig is om kriminele sake te open.”

Die taxi staking, wat gelei het tot wydverspreide geweld, kom nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) nie hul verskille kon uitklaar met die Stad Kaapstad tydens ’n vergadering Donderdag nie. Die verskille sluit in Stad Kaapstad se bywette en die skut van taxis in die gebied. Die vergadering is onder meer bygewoon deur ministers Ricardo Mackenzie (mobiliteit departement) en Reagen Allen (polisietoesig en gemeenskapsveiligheid), asook die distrik polisiekommissaris Genl. Vincent Beaton.

Nadat geen ooreenkoms bereik kon word nie het Santaco die provinsiale staking Donderdagmiddag aangekondig, wat onmiddellik inwerking getree het. “Alle streke van Santaco in die Wes-Kaap het besluit om alle taxi’s vanaf hierdie oomblik te herroep,” het die raad kort na sy besluit op hul Twitter-blad geplaas.

Premier Alan Winde het intussen ’n beroep gedoen op alle taxi leiers in die provinsie, wat geaffilieer is met Santaco, om terug te keer na die tafel saam met Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering om “langdurige kwessies” wat die bedryf gekonfronteer het op te los.

“Ons erken die belangrike rol wat die minibustaxisektor in die openbare vervoerbedryf en ekonomie speel. Maar om ’n staking uit te roep, wat met geweld gepaard gaan is nie die antwoord om die griewe van operateurs en bestuurders op te los nie. Dit sal ’n slag vir ons gedeelde ekonomiese groei wees en die armes die hardste raak.”

Mackenzie sê hy is teleurgestel dat die leierskap van taxi industrie besluit het om hulself te onttrek van die minibus taxi taakspan, wat juis op die been gebring is om koppe saam te sit en “vordering te maak met die dringende kwessies wat die bedryf in die gesig staar”.

“Die oplossings is nie eenvoudig of onmiddellik nie, maar ons pak hulle aan ongeag. Ons mobiliteit departement werk hard saam met stadsamptenare om voortdurende uitdagings op te los waar die beskikbaarheid van bedryfslisensies nie bedrywighede in staat gestel het om in die vraag na vervoer te voorsien nie. My span is ook op die grond om die kwessie van die B97-roete as ’n saak van dringendheid aan te spreek. ’n Opname is pas voltooi om die feite vas te stel, wat enige moontlike stappe sal bepaal wat as die reguleerder geneem moet word.”

Die omstrede B97-minibustaxiroete tussen Paarl en Bellville het verlede jaar op 8 Desember 2022 heropen ná meer as ’n jaar nadat dit noodgedwonge moes sluit as gevolg van taxigeweld, wat talle lewens geëis het. Die roete is in Julie 2021 gesluit nadat die twee taxiverenigings, Cata en Codeta, oor eienaarskap oor B97 baklei het.

You need to be Logged In to leave a comment.