Pendelaars van oor die Wes-Kaap heen was Maandag en Dinsdag gestrand toe die beplande taxi-staking in die provinsie voortgegaan het soos aangekondig en bevestig deur die SA Nasionale Taxiraad (Santaco).
Taxi-operateurs het oor ’n paar kwessies gestaak wat insluit die skut van taxi’s elke dag, groot verkeersboetes en ook die Blue Dot-taxidiens wat amptelik teen einde November beëindig sal word.
Blue Dot is ’n aansporingsprogram wat deur die Wes-Kaapse regering in Mei verlede jaar begin is en was daarop gemik om taxibestuurders te beloon vir verbeterde bestuursgedrag en hoër diensgehalte, terwyl die vermindering van onwettige bedrywighede en konflik aangemoedig word.
Die beëindiging van die program kom nadat die Wes-Kaapse regering aangekondig het dat hy nie geld het om die dienste verder te finansier nie.
Die staking het groot bekommernis gewek vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) omdat leerders en matrikulante tans besig is met hul eindeksamen.
Paarl Post het gesels met skoolhoofde Nicolene Morrie en Mary Banda, onderskeidelik van Paulus Joubert Sekondêr en Klein Nederburg Sekondêr, oor hoe die staking leerders geraak het en watter planne by die skole in plek gestel is.
Beide Morrie en Banda het bevestig dat onderwysers by die onderskeie skole matrikulante, wat ver van die skool woon en nie vervoer gehad het nie, na die skool vervoer het en weer terug huis toe geneem het. Dit sluit in leerders van Wellington, Mbekweni, Klapmuts en Paarl.
“By die gr. 12-leerders het die opvoeders die kinders Maandag by die huis gaan haal en dan skryf hulle weer vanmiddag (Dinsdag). Daar is een van die ouers wat die kinders vandag skool toe bring en dan weer huis toe neem. Die ander kinders wat in die Paarl woon, en elke dag gebruik maak van vervoer, het maar gestap skool toe,” sê Morrie.
Banda het verder bygevoeg: “Oor die twee dae kon ons nou net die matrieks voluit ondersteun wat vervoer betref, want hulle skryf hul eindeksamen.
“By die ander grade weet ons wat is die getalle van die leerders wat nie opgedaag het nie as gevolg van die staking. Vir hulle gaan ons Maandag kans gee om hul eksamen te voltooi wat hulle oor die twee dae gemis het.”
Geen gewelddadige aksies as gevolg van die staking is in Drakenstein aangemeld Maandag en Dinsdag nie.
Woensdag was taxidienste weer terug soos normaalweg.


