Die ou taxi-staanplek by die Hugenote-treinstasie.Foto: Argief


Die Drakenstein-munisipaliteit het begin om die ou taxi-staanplek by die Hugenote-treinstasie in die Paarl, wat die afgelope paar jaar deur haweloses vir huisvesting gebruik is, af te breek.

Die werk het verlede Woensdag (28 Augustus) begin toe munisipale werkers daarvan werk gemaak het om die staanplek se dakplate af te haal.

Die kwessie rakende haweloses wat op die perseel plak, het al meer as een keer opgeduik. Die vraag oor wie die grond voor die treinstasie besit, bly steeds onbeantwoord. Prasa en die munisipaliteit het albei in die verlede eienaarskap probeer ontduik en die vinger na mekaar gewys.

Paarl Post het in 2022 oor die einste taxi-staanplek en die ander stuk oop grond voor die stasie, waar haweloses hulself vestig, berig. Drakenstein het toe gesê dat hulle probeer om die probleem van haweloses “binne die munisipale gebied” hok te slaan deur betrokke te wees by gereelde optredes wat glo ook private grondeienaars insluit.

Zinobulali Mihi, ’n woordvoerder van Prasa in die Wes-Kaap, het destyds ook skriftelik bevestig die munisipaliteit is die wettige eienaar van die grond voor die Hugenote-treinstasie en die munisipaliteit het ook die taxi-staanplek, wat haweloses as skuiling gebruik, opgerig.

Navrae is gerig aan die munisipaliteit oor die afbreek van die taxi-staanplek en wat sy plan met die haweloses is.

Eda Barnard, Drakenstein se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, sê die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling pas daagliks verskillende verordeninge oor die hele munisipale gebied toe.

“Dít sluit in slaap en oornag op straat, die bou van onwettige strukture, rommelstrooi en onwettige vullisstorting, ensomeer. As deel van ons daaglikse take verwyder ons ook onwettige mense en reik boetes uit waar nodig. Wat die bestuur van haweloses betref, volg die munisipaliteit ’n omvattende benadering om haweloosheid in ons gemeenskap die hoof te bied. Ons monitor en dokumenteer die haweloses in Drakenstein om te verseker dat ons akkurate en bygewerkte inligting het.

“Hierdie deurlopende data-insameling is van kritieke belang om ons ondersteuningsdienste en intervensies aan te pas om doeltreffend aan die behoeftes van die haweloses te voorsien.

“Tot op hede het die munisipaliteit 259 individue geïdentifiseer wat in die Drakenstein- munisipale gebied op straat woon. Ons het ook met kommer verneem dat haweloses van Kaapstad na die Paarlse skuiling gebring word – sowat 30 mense in een maand (Junie 2024), wat ons hawelose getalle in Drakenstein opstoot.”

Die oprig van die beplande oornagskuiling in die Paarl is tans in die derde fase, het Barnard bevestig.

“Hierdie fasiliteit is ontwerp om ’n veilige en ondersteunende omgewing te bied vir diegene wat haweloosheid ervaar en bied nie net ’n slaapplek nie, maar ook toegang tot noodsaaklike dienste wat individue kan help om na meer bestendige lewensomstandighede oor te skakel. Hierdie ontwikkeling beklemtoon ons verbintenis om haweloosheid aan te pak deur volhoubare en deernisvolle oplossings te bied.”

Sy benadruk dat die munisipaliteit daartoe verbind bly om nou saam te werk met regeringsinstansies, organisasies sonder winsoogmerk en ander belanghebbendes ten einde volhoubare oplossings vir hierdie komplekse maatskaplike kwessie te vind. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hierdie pogings te ondersteun terwyl ons daarna streef om ’n veiliger en deernisvolle omgewing vir alle inwoners te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.