Die omstrede B97-taxiroete tussen Bellville en Mbekweni sal binnekort weer vir taxi-operateurs oopgestel word.
’n Bakleiery tussen die taxi-verenigings Cata en Codeta oor eienaarskap oor die spesifieke roete, het verlede jaar in ’n bloedbad ontaard.
Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, was in Julie 2021 genoodsaak om die roete summier te sluit. Die B97-roete is sedertdien steeds gesluit omdat Cata en Codeta nie ’n ooreenkoms kon bereik nie.
Mitchell het verlede week gesê die twee verenigings was in ’n arbitrasieproses om die kwessie op te los.
“Die arbitrasietoekenning is in November 2021 vrygestel, en ons het ’n daadwerklike poging aangewend om uitvoering aan die arbitrasie-uitslag te gee. Die arbiter het beslis die Cata Boland Taxi Association en die Paarl Alliance Taxi Association (geaffilieer aan die Codeta-streek) het wettige regte om op die B97-roete handel te dryf.”
Daar is dus nuwe verwikkelinge in verband met die roete, en die twee verenigings het tot ’n ooreenkoms gekom dat al twee se taxi-operateurs op die roete kan werk. Cata en Codeta het verlede week ’n amptelike ooreenkoms in die teenwoordigheid van Mitchell onderteken. Mitchell het gesê hy is vol vertroue dat die B97-roete binnekort sal heropen.
“Verskeie vredesgesprekke en moeilike besprekings het die afgelope jaar plaasgevind, en ’n ooreenkoms is onlangs bemiddel oor die deel van die omstrede Roete B97. Die memorandum van ooreenkoms sit uiteen hoe die toegekende bedryfslisensies verdeel sal word en hoe die onderskeie partye op die roete sal werk.
“Ingevolge die ooreenkoms sal bedryfslisensies op ’n gelyke basis (50 / 50) tussen die twee verenigings verdeel word in ooreenstemming met die vraag na dienste soos aangedui in die vervoerplanne vir die gebied. Albei verenigings het hulle daartoe verbind om op te hou om nuwe lede te werf wat meer as passasiersaanvraag is en om nie toe te laat dat onwettige operateurs op roete B97 handel dryf nie.”
Volgens Mitchell moet verskeie administratiewe en wetgewende prosedures nog gevolg word vir die registrasie van nuwe lede, asook die uitreiking van bedryfslisensies aan geaffilieerde lede.
“Die roete sal gesluit bly totdat die reguleringsproses afgehandel is. Ingevolge die vervoergebeurlikheidsplan wat aan die begin van die sluitingstydperk opgestel is, sal Golden Arrow-busritte tussen Bellville en die Paarl in werking bly om pendelaars te vervoer. Die verlenging van die sluiting van hierdie roetes en taxistaanplekke sal help om die relatiewe stabiliteit wat in die openbare vervoeromgewing in die geaffekteerde gebiede herstel is, te handhaaf en die proses om blywende vrede te vind, te ondersteun,” het Mitchell bygevoeg.
- The controversial B97 taxi route between Bellville and Mbekweni will soon be reopened to taxi operators.


