Petroljoggies, voetgangers en die insittendes van ’n minibus-taxi was Dinsdagoggend getraumatiseer ná ’n noue ontkoming toe die taxi teen ’n petrolpomp vasgery het. Verskeie nooddienste het op die toneel by die Engen-vulstasie in Jan van Riebeek-rylaan in Paarl-Oos gereageer. Volgens petroljoggies, wat die ongeluk sien gebeur het, het die bus met sowat ses insittendes net ná 08:00 teen die een petrolpomp naaste aan die ingang vasgery. “Ek was besig om ’n ander motor vol brandstof te maak toe die bus teen die pomp vasry. Ek het toe dadelik gehaas om die noodskakelaar van die pompe te aktiveer,” vertel een joggie. ’n Ander joggie verduidelik dat daar taamlike verkeer tydens die voorval in die pad was. “Dus kon die taxi nie teen ’n hoë spoed gejaag het nie. Die bestuurder ly glo aan epileptiese aanvalle en dit is glo waarom hy beheer oor die voertuig verloor het,” vertel ’n ander joggie. Nooddienste op die toneel het bevestig die bestuurder van die voertuig het geen opsigtelike beserings getoon nie, terwyl al ses passasiers met ernstige beserings na Paarl-hospitaal geneem is. Een manlike passasier se been was glo erg vergruis terwyl ’n vroulike passasier nek- en hoofbeserings opgedoen het.Foto: Heleen Rossouw
Taxi, petrolpomp maak kennis
NovaNews WhatsApp Channel is LIVE!
Get the stories that matter, straight to your phone. Click here to join NovaNews on WhatsApp or scan the QR code for instant access.