Dit is byna agt maande nadat die vierjarige Tamia Botha vermoor is, en haar ouers sit steeds sonder enige antwoorde.
Die kleutermeisie is op 25 September 2022 laas lewend gesien toe sy voor haar woning in Daphnestraat, Paarl-Oos, gespeel het.
Menige inwoners het met haar ouers en die polisie saamgespan om na die meisietjie te soek. Haar lewelose liggaam is ’n paar dae nadat sy vermis geraak het, op die perseel van ’n skool in die gebied, waar sy in lang gras agtergelaat is, gekry.
Die Paarl-Oos-polisie het toe bevestig dat Tamia sigbare wurgmerke aan haar nek gehad het.
Tot nou is geen verdagte al weens die meisietjie se wreedaardige moord in hegtenis geneem nie.
Tamia se ouers, Udene Botha en Gideon Thys, het die organisasie sonder winsbejag Action Society kort ná haar dood gevra om as woordvoerder vir hulle op te tree.
Lt.kol. Malcolm Pojie, ’n Wes-Kaapse provinsiale polisie woordvoerder, het by navraag gesê die polisie is nog hard besig om die saak te ondersoek en hulle wag op die finale forensiesetoetsuitslae om die saak af te handel.
“Intussen bly die ondersoekbeampte voortdurend in konsultasie met die kantoor van die direkteur van openbare vervolging om die saakdossier af te handel. Die ondersoek duur voort.”
- It is almost eight months after four year old Tamia Botha was murdered, and her parents are still without any answers.