Udene Botha, ma van Tamia Botha, wie se lyk verlede jaar in die Paarl gevind is nadat sy vermis geraak het. Foto: Rasaad Adams


Hierdie week is dit presies ’n jaar gelede dat die vierjarige Tamia Botha in Paarl-Oos vermoor is. Hoewel haar ma, Udene Botha, se hartseer nog vlak lê, is sy woedend dat die persoon verantwoordelik vir haar kind se wreedaardige dood nog op vrye voet is.

“Sy het nie verdien wat met haar gebeur het nie. Die ondersoekbeampte kom net elke keer hier en sê die ondersoek is goed aan die gang. Nou onlangs toe hy hier was, het hy vir my gesê ek sal iets oorkom as ek hoor wie dit is wat my kind vermoor het, maar tot vandag toe is niemand nog in hegtenis geneem nie.

“Elke keer kom hy hier met ’n smile op sy gesig, en ek dink nogal nie dit is snaaks nie. Ek is baie kwaad dat daar geen vordering is in die saak nie en ook vir die persoon wat my kind so genadeloos weggeneem het. Sy het nog ’n blink toekoms voor haar gehad. Ek meen sy kon dalk ’n onderwyser of iets geword het.”

Die moord op die kleuter het landwyd opspraak gemaak en gemeenskapslede is steeds ook woedend oor die sinlose daad.

Tamia is Sondag 25 September 2022 laas lewend gesien toe sy voor haar woning in Daphnestraat, Paarl-Oos, gespeel het. Die hele gemeenskap, insluitend buurtwagte, het na Tamia gesoek nadat haar ma haar dieselfde dag by die plaaslike polisie as vermis aangemeld het.

Deurnag-soekgeselskappe het geen sukses gehad om die meisie op te spoor nie.

Haar liggaam is die volgende dag in lang gras op die erf van Nederburg Primêr ontdek. Botha onthou hoe sy en Tamia se pa, Gideon Thys, saam met die gemeenskap deur die nag na hul kind gesoek het .

“Ons het in elke drain gekyk en was selfs by die rivier ook aan die onderkant. Die polisie het my geneem om te gaan kyk of sy by familie is in Lovers Lane, maar ek weet sy sou nie só ver gestap het nie. En sy sou ook nie by ander mense oorgeslaap het nie, want ek laat nie my kinders uitslaap nie.

“Wat my ook diep getref het, is hoe die polisie my en haar pa as die verdagtes behandel het. Hulle het ons sommer in die nag kom haal en gesê dat ons met die waarheid moet uitkom oor wat met ons kind gebeur het. Dit is onmenslik om ons nog daardeur ook te sit.”

Sedert haar dood is Tamia se ouers op ’n emosionele tuimeltrein.

“Haar pa sit soms hier met haar foto in sy hand en huil net. Ek huil ook nog elke dag wanneer ek so haar klere vashou. Dit is iets wat ek vir niemand toewens nie. Toe sy die volgende gekry is, het iemand my kom roep en dit het gevoel my hart gaan enige oomblik staan. Ek het gegaan tot by die skool waar sy gevind is en uit die verte het ek haar herken aan die skoene en klere wat ek vir haar die vorige dag aangetrek het. Ek het net daar inmekaargesak en mense wou ook nie gehad het ek moet nadergaan nie. Al het sy daar dood gelê, sou ek haar opgetel het, want sy is my kind.”

Kapt. Anthony Sauls, woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het toe bevestig dat Tamia se lyk sowat 100 m van waar sy vermis geraak het, gevind is en dat sy ook sigbare wurgmerke aan haar nek gehad het. Daar was geen teken dat sy seksueel aangerand is nie.

“Die speurder het op een slag vir my gesê daar is spermselle op haar broek gevind, maar sy is nie verkrag nie. Ek wil weet wie hou ’n kind heelnag aan. Daai persoon moes seker ander voornemens gehad het, maar soos ek my kind ken, het sy vir haar lewe geveg, maar dit was tevergeefs. Ek het ’n sterk vermoede dat daar meer as een persoon betrokke is – dalk ’n vrou ook. Ek weet nie hoekom nie, maar dis net ’n gevoel.”

Kort-kort word Botha stil en dink weer aan die goeie dae nog voor die tragedie. “Sy was baie wild en het ons baie laat lag. Een dag het sy seker so vyf broeke aangetrek en jackets op ’n warm dag dat die bure skoon gevra het of dit dan winter is, maar dit was ’n bitter warm dag. Wanneer ons dorp toe gegaan het, het sy gevra dat ons by die spesifieke huis stop om na die vissies in die dammetjie buite te kyk. Vandag hou ek nog steeds daar stil om na die vissies te kyk.”

Botha erken dat sy baie vrae het vir die een wat Tamia vermoor het, en hoop dat die skuldige een gou vasge­trek sal word.

“Ek wil hom in sy oë kyk en vra hoekom het hy haar nie laat gaan nie sodat sy kan lewe. Toe sy gevind is, was haar liggaam nog warm. Mense sê jy moet vergewe, maar ek sal daai persoon nooit vergewe nie. Ek is baie kwaad, en wil net hê daai persoon moet vir sy dade boet.”

You need to be Logged In to leave a comment.