Die kranige rugbyspeler Lee-Wayne Josop en sy familie skarrel rond om geld in te samel sodat hy teen einde Junie aan die Akademie-rugbytoer na Gauteng kan deelneem.

Dié gr. 11-leerder aan die Noorder Paarl Hoërskool is opgeneem in die o.18-akademie-rugbyspan wat van 24 tot 28 Junie aan ’n rugbytoernooi by Jeppe High School for Boys gaan deelneem.

Lee-Wayne benodig R8 000 om sy onkostes vir die toer te dek. Die geld word onder meer vir verblyf en etes gebruik.

Paarl Post het met sy ma, Elizabeth Francke, gesels en sy het bevestig nog geen geld is al ingesamel nie, maar sy en diegene wat bankvas agter haar seun staan, doen alles in hul vermoë om die geld voor 15 Junie in te samel.

“Rugby is sy droom en passie. Hy speel al vandat hy op laerskool by Alfons Primêr was. Hy is ’n baie stil mens en praat nie veel nie, maar rugby is sy alles.”

Francke, wat met haar seun op ’n plaas in Agter-Paarl woon, word effe emosioneel en het nie juis woorde nie, maar sy hoop iemand sal kan help sodat Lee-Wayne wel kan deel uitmaak van die opkomende toer.

“Ek maak hom alleen groot, en dit is nie altyd maklik nie. Ek wil vooraf baie dankie sê vir die [gemeenskap se] gewilligheid om my seun te ondersteun. Die bydrae wat u lewer sal ’n groot verskil maak in sy lewe en toekoms. Niks hiervan is moontlik sonder skenkings nie, en enige skenking word opreg waardeer.”

Athol Ontong, die voorsitter van die Boland-hoërskole Rugbyunie, sê hy het Lee-Wayne al opgesom as ’n baie hardwerkende kind.

“Hy is nie van die grootste spelers nie; hy is nou die tradisionele Cheslin Kolbe wat ten spyte van sy grootte sy pond vleis op die veld gee.

“Hy is blitsig vinnig, hy duik oral op die veld en hy is oral betrokke. Hy gee eintlik 110% op die veld.

“Lee-Wayne kom vir my voor as ’n wedstrydwenner. Ek het by Klein Nederburg Sekondêr se onlangse sewestoernooi ook gesien toe hy die toernooispan gehaal het. Dit wys net hoe goed hy eintlik is.

“Die ouens onderskat hom basies, maar hy is so vol selfvertroue dat hy enige teenstander kan klop. Soos ek gesê het – Lee-Wayne herinner my baie aan Cheslin Kolbe. En daar is mos ’n spreekwoord wat lui: ‘Staal het nie dikte nodig nie’. Ek het nog nie baie met hom gesels nie, maar dit is die indrukke wat ek van hom kry.

“Hy het by al die proewe uitgestaan en dis hoekom ons hom gekies het om deel te wees van die Akademieweek, wat later die maand in Johannesburg plaasvind. Wat die geld betref, betaal ’n borg vir die spelers se vervoer en al die klere, maar nou is daar mos toernooi- kostes soos verblyf, etes vir die week en uitstappies wat nou daai aardige bedrag beloop.”

Ontong beklemtoon verder dit is ’n groot uitdaging om die talentvolle rugbyspelers hier in die Boland te hou. Hy meen die ander provinsies koop die jong spelers en dit “maak die Boland op die ou einde swak”.

“Daar is suksesverhale van Boland-kinders wat vir ander provinsies speel, maar daar is ook risiko daaraan verbonde; as hulle nie leiding of die regte ondersteuning kry nie, sukkel daai kinders om aan te pas. Die punt wat ek eintlik wil maak, is dat ons as gemeenskap en leiers in die Boland eintlik moet probeer om ons kinders hier te hou.”. Enigiemand wat ’n skenking vir Lee-Wayne se toer wil gee, kan sy ma, Elizabeth, by 079 622 8125 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.