Die Hoër Meisieskool La Rochelle het sy Dux-leerder by die skool se jaarlikse akademiese prysuitdeling aangewys.
Anike Mostert, ’n gr. 12-leerder, het die Kohn-wisseltrofee en boekprys vir die hoogste punte in fisiese wetenskappe asook die PriceWaterhouseCoopers-prys vir die beste student in beide rekeningkunde en wiskunde ontvang.
Behalwe vir hierdie pryse kry sy die top-10-balkie (wat sy kan hou) omdat sy in al drie kwartale in die top-10 was.
Sy het ook die Lizette Rabe-prys vir ’n leerder met “innoverende denke” gewen.
Dié prys bestaan uit ’n groot geldprys asook ’n boekprys, geskenk deur Lizette Rabe vir die mees kreatiewe matriekleerder: iemand wat krities, uit-die-boks en innoverend dink, wat bestaande paradigmas bevraagteken, of sommer net iemand wat anders dink.
Sy het ook die Elma Hartmann-wisseltrofee, die Malanboekprys sowel as die D.C. le Roux-beurs (wat in 1979 die eerste keer ter nagedagtenis aan Le Roux se pa ingestel is) vir die hoogste punte in gr. 12 gewen.