Die Forensiese Patologiedienste (FPS) in die Paarl stoor tans 17 lyke uit die Drakenstein- en Stellenbosch- munisipale gebiede wat nog nie deur die oorledenes se families opgeëis is nie.
Byron la Hoe, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse provinsiale gesondheidsdepartement, sê ingevolge regulasies mag ’n onopgeëiste liggaam vir 30 dae gestoor word. Hy sê dit is nie altyd haalbaar nie en polisieondersoeke vereis soms dat lyke langer gestoor moet word. Die langste onopgeëiste liggaam wat by die FPS Paarl lê, is al twee jaar daar.
Hy sê onopgeëiste lyke wat nie geïdentifiseer word nie, word begrawe.
“Sodra die polisieondersoekbeampte alles probeer het om die oorskot te laat uitken, maar onsuksesvol was, verskaf hulle ’n verklaring wat dit staaf en gee dan toestemming dat die liggaam as ’n onbekende begrawe mag word. Ons kantoor sal dan by die verantwoordelike munisipaliteit aansoek doen om ’n armlastige begrafnis en die betrokke munisipaliteit sal dan ’n gekontrakteerde ondernemer opdrag gee om die liggaam by FPS te verwyder en te begrawe.”

