Bewerings van wanbestuur by die Haven-nagskuiling in Paarl word deur die departement maatskaplike ontwikkeling ondersoek nadat ongelukkige kliënte hul griewe laat hoor het. Foto: Liezl Davids


Verlede week het verskeie kliënte van die Haven-nagskuiling in die Paarl hul misnoeë uitgespreek oor die manier waarop die nagskuiling bestuur word en gevolglik hoe die inwoners daar behandel word.

Van die klagtes sluit in inwoners word nie van gesonde maaltye voorsien nie, en die maaltye wat hulle wel kry, dikwels nie geskik is om te eet nie omdat die vervaldatum van die kos dikwels reeds verby is.

Ander klagtes is dat die nagskuiling, wat insluit die kombuis, toilette en kamers, onhigiënies is.

“Het iemand al na die badkamer gegaan en dan loop die toilet oor?” vra Weldon Marais, een van die kliënte van die nagskuiling, vir die groep ongelukkiges wat buite die nagskuiling staan, waarna hulle hul hande in die lug opsteek.

’n Vrou laat hoor ook dat die badkamers vir die vroue vir agt maande sonder warm water was.

Die kliënte wat teenwoordig was toe Marais die memorandum lees, het saamgestem hulle is te bang om te praat wanneer hulle voel hul menseregte word geskend uit vrees vir viktimisering en ook omdat hulle, volgens hulle, dikwels gedreig word dat hulle uit die skuiling gesit gaan word.

Klagtes het ook na vore gekom oor die manier waarop die bestuurder van die nagskuiling, Eugene Zwaan, met die kliënte daar praat.

“Ons is al deur hom rotte genoem. Vertroulike mediese inligting sal hy sommer net so uitblaker vir almal om te hoor. Moet sulke inligting nie vertroulik bespreek word nie?”

Die klaers beweer ook hulle help self om skenkings by die nagskuiling in te dra, maar dat die beste produkte na die personeel se huise gaan.

Veiligheid is ook ’n groot kommer. “Niemand word hier deursoek by toelating of hulle enige wapen by hulle het nie en niemand kyk of iemand onder die invloed is nie.

“Daar was al ’n voorval waar iemand wat onder die invloed van drank was, ’n mes uitgeruk het.

“Die mes is by hom afgevat en hy moes die skuiling verlaat, maar die volgende dag toe word hy weer binne toegelaat. Ons moet letterlik met een oog oop slaap.”

Die kliënte is ook ongelukkig omdat almal nie dieselfde daaglikse fooi betaal nie.

“Die mense wat Sassa-toelae kry moet R1 150 per maand betaal.”

Nog ’n klagte is kamers wat deur die dag gesluit word en bejaardes wat nie heeldag buite kan wees nie en gou moeg raak, glad nie in die kamers toegelaat word nie.

Hulle moet maar op die grond lê.

Die groep eis ’n deeglike ondersoek deur die departement van maatskaplike ontwikkeling en dat Zwaan geskors word hangende die ondersoek.

Hulle versoek ook dat nie een van die kliënte hangende die uitslae van die ondersoek gesê moet word om die skuiling te verlaat nie.

Die kliënte wou die memorandum aan Zwaan oorhandig, maar Zwaan het ook aan Paarl Post verduidelik hy kan nie die memorandum ontvang nie en dat dit per e-pos gestuur moet word aan Hassan Khan, die uitvoerende hoof van The Haven Night Shelter Welfare Organisation, waaronder Paarl Haven val.

By navraag aan Khan het hy gesê hy het verlede Vrydagoggend die nagskuiling besoek en hy was daar in gesprek met die kliënte.

“Ons het menings gewissel en ooreengekom dat die Haven nie behuising verskaf nie. Ons help haweloses om hul haweloosheid te beëindig.

“Die Haven maak gebruik van maatskaplike werkers op die terrein om ons kliente te help om met hul familie en die gemeenskap te herintegreer of na hul huis terug te keer.”

“Ons het ook ooreengekom dat kliënte die Haven-kliënteverhoudingsvorms sal gebruik om hul versoeke, voorstelle, kommentaar en / of klagtes vir my persoonlike aandag, ondersoek en terugrapportering te kommunikeer.”

Khan sê hy het Saterdag weer die Haven besoek om die kliënteverhoudings­vorms te gaan haal.

“Baie min vorms was beskikbaar. Ons het weer as ’n groep gesels, gevolg deur individuele gesprekke met inwoners teen wie, soos ooreengekom is, slegs teen opgetree sou word as dit op skrif gestel word.”

Khan sê meer kliënte het toe die vorms ingevul en hy het vertrek met 18 vorms wat deur 17 kliënte ingevul is.

Khan het Maandag aan Paarl Post gesê hy sal Woensdagaand (26 Oktober) met kliënte sy reaksie op die inhoud van die vorms deel.

Oor die punte op die memorandum het Khan as volg geantwoord:

“Die gesondheidsinspekteur lê twee keer per jaar besoek af en was laas by die Haven Paarl op 20 Mei.

Khan het ook in sy terugvoering aan Paarl Post die sertifikaat van aanvaarbaarheid / geskiktheid van die Haven se kombuis aangeheg, wat 30 September 2014 gedateer is.

Hy het ook ’n spyskaart aangeheg wat volgens hom strenger gevolg word tydens skoolvakansies en naweke “aangesien ons wel gedurende die week van ’n plaaslike skool kos kry wat te veel is vir hul behoeftes, wat ons in die Haven voorsit.”

“Dit blyk dat die porsies dalk nie groot genoeg is nie en ek tref reëlings vir aanvullende kos soos en wanneer dit nodig is.”

Volgens Khan het hy in sy gesprekke met die kliënte geen aanduiding van ’n spesifieke persoon gekry dat hy moontlik geviktimiseer is nie.

“Een persoon wat egter by my ’n klagte ingedien het, het aangedui dat dit sy eerste keer is dat hy die Haven-kliënteverhoudingsvorm gebruik, aangesien hy voel hy kan dalk geviktimiseer word.”

Oor die skoonmaak van die nagskuiling sê Khan dit is die verantwoordelikheid van die kliënte om hul eie ruimte sowel as die gemeenskaplike dele skoon te maak.

Volgens Khan het die kliënte met wie hy in gesprek was voor hul konsultasie geweier om te help om die eetgedeelte skoon te maak aangesien verskillende mense daagliks pligte toegewys word.

“Daar is ook deur ’n kliënt voorgestel dat die Haven enigiemand wat wil gaan voordat hulle hul pligte voltooi het, keer. Ons bereik dalk genoegsame konsensus oor die vlak van netheid en die manier om dit met Haven-hulpbronne en begunstigde arbeid te bereik,” het Khan gesê.

Oor die kostes per nag van die skuiling het Khan gesê die fooi is R15 per dag of een uur se arbeid in plaas van geld vir behoeftiges. Hy sê wel begunstigdes van toelaes of dié wat werk en meer as R2 500 verdien, moet R1 150 per maand betaal.

Khan sê die geld wat kliënte betaal, word gebruik om die Haven se uitgawes te dek.

“In September het die Haven fooie van R17 720 ingevorder wat 35% van die moontlike skuilingsfooie verteenwoordig indien almal sou betaal. Die Haven Paarl het in dieselfde maand R20 107 net aan elektrisiteit bestee. Gemiddeld 40% van gelde word ingevorder. Ons beëindig dienste aan enigiemand wat weier om skuilingsgeld te betaal as hulle in ’n posisie is om dit te betaal. Enigeen wat nie kan betaal nie, word vereis om te help met minstens een uur se arbeid in en om die skuiling.”

Ten opsigte van die Haven se siftingsproses sê Khan hulle weier nie toegang vir ’n kliënt wat onder die invloed is nie.

“Wapens word gekonfiskeer ingevolge die Haven-beleid. Dwelms en alkohol word in die teenwoordigheid van die eienaar gekonfiskeer en vernietig.”

Khan sê ook daar is een wasmasjien vir die was van beddegoed en klere deur kliënte wat nie in staat is om hul eie klere te was nie en dit kan gratis gebruik word.

“Die kwessies in die memorandum word hanteer soos meer inligting beskikbaar word.”

Esther Lewis, hoof van kommunikasie by die departement maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, het aan Paarl Post bevestig dat die departement die memorandum Vrydagmiddag ontvang het en die bewerings hulle ondersoek word.

You need to be Logged In to leave a comment.