Paarliete kan hulself weer gereed maak vir ’n toestroming van besokers na die Bergrivier op Nuwejaarsdag en Tweede Nuwejaar.
Gesinsdag vanjaar was die Bergrivier langs die Boulevard in die Paarl tjokkenblok vol motors en besoekers wat lafenis kom soek het in die rivier.
Harde musiek, die openbare gebruik van drank en veral uitermatige rommelstrooiing het inwoners wel erg gepla.
Eda Barnard, direkteur van openbare veiligheid van die Drakenstein-munisipaliteit het egter hierop gereageer en gesê dat die dag het sonder enige groot voorvalle verloop.
“Daar was öp 26 Desember heelwat besoekers by al die munisipaliteit se geriewe. Ons oorde, swembaddens en parke was vol. Daar was ook baie inwoners wat langs die Bergrivier lafenis teen die hitte gesoek het.
“Drakenstein het ook ‘n hoër as normale aantal dagbesoekes van buite ons munisipale grense ontvang.
“Die munisipaliteit se wetstoepassers, verkeersdienste, en die munisipaliteit se sekuriteit is by die sleutelfasiliteite ontplooi om seker te maak dat munisipale verordeninge gehoorsaam word. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ook deurlopend sigbare ondersteuning gegee.
“Die munisipaliteit maan steeds die publiek om eerder nie in die Bergrivier te swem nie weens die vloei en diepte van die rivier wat soms moeilik is om te bepaal. Mense wat wel besluit om in die rivier te swem, doen dit op eie risiko.
“Ons moedig besoekers aan die munisipaliteit se geriewe aan om hul eie en ander se veiligheid eerste te stel.”