Talle aangekeer toe polisie toeslaan

Paarl-Oos-polisie het die naweek in ’n paar operasies verskeie mense in hegtenis geneem.

Die polisiewa se venster is deur inwoners uitgegooi.


Paarl-Oos-polisie het die naweek in ’n paar operasies verskeie mense in hegtenis geneem.

Volgens kapt. Anthony Sauls is verskeie verdagtes in hegtenis geneem vir die besit van gevaarlike wapens. Mense is ook in verband met dwelms in hegtenis geneem. Vyf mans is onderskeidelik deur Paarl-Oos-polisiebeamptes in hegtenis geneem omdat hulle in besit was van gevaarlike wapens. Dit sluit in ’n tuisgemaakte panga, kombuismesse, snytange, ’n lem, ’n staal saag, ’n wielsleutel, ’n skroewedraaier, ’n boutknipper en ’n hamer. Twee mans is in hegtenis geneem vir die besit van Mandrax en dagga, terwyl ’n derde verdagte vasgetrek is omdat hy dié dwelms verkoop.

Polisiebeamptes van Paarl-Oos het ook gereageer op ’n bendegeveg wat in Groenheuwel aangemeld is. Beamptes het op ’n verwaarloosde handgemaakte (zip-) vuurwapen afgekom. Verder is drie verdagtes wat by dié bakleiery betrokke was, in hegtenis geneem. Hulle is van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens, nóg ’n zip-vuurwapen, ’n gasvuurwapen, asook ammunisie (een .38-patroon, een 9 mm-patroon een leë 9 mm-patroon) aangekla.

Sauls doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met die polisie te werk en hulle nie teë te gaan nie. Hy sê toe hulle die toneel bygewoon het waar die bendes baklei het, het inwoners die polisiewa geteiken en een van die vensters uitgegooi.

You need to be Logged In to leave a comment.