Kaartjies is uitverkoop vir die Wellington Unite-langtafelete wat Woensdag 4 Desember gehou word.

Sowat 1 000 mense gaan by 100 tafels onder die Kersliggies in Kerkstraat en Victoriapark vir ’n bekostigbare driegangmaaltyd aansit.

Die vrywilligers wat die projek aanbied, is hard agter die skerms aan die werk om seker te maak dat alles op die dag reg is en om hierdie handevat-gemeenskapsprojek ’n werklikheid te maak.

Die projek word uit alle oorde ondersteun.

Een van die vrywilligers, Xania van der Merwe, sê die belangstelling in die projek is ’n riem onder die hart.

“Dit wys hoe graag ons dorp se mense mekaar se geselskap wil geniet.”

Sy sê verder sy hoop dit gee die dorp se mense kans om hul verskille vir een aand opsy te sit, mekaar se geselskap te geniet, nuwe vriende te maak “en ons mooi Wellington en sy mense” te vier.

Die spyseniering word behartig deur ’n span onder leiding van Bertus Fourie. Nog mense word benodig as kelners, kinderoppassers en skoonmakers. Die projek sal ook dankbaar wees vir enige geldelike bydraes om oorhoofse kostes te dek.

Strate rondom Kerkstraat en Victoriapark sal van 15:00 af gesluit wees, maar steeds vir voetgangers toeganklik wees. Alternatiewe roetes sal aangedui word.

Veiligheidsplanne is gereed.

Geen drank word by die ete toegelaat nie.

Sakeondernemings en vrywilligers wat betrokke wil raak kan Van der Merwe by kurkprop.promise@gmail.com of 082 493 9087 (per WhatsApp) kontak.

Besoek www.wellington.co.za of die Facebookblad Wellington Aan Tafel – Wellington Unite vir nog inligting oor hoe om te help.

You need to be Logged In to leave a comment.