Met die amptelike opening van die Bergrivier-swemseisoen wat so goed deur die Drakenstein-munisipaliteit ondersteun word, wil ek net ’n paar kwellende probleme uitlig.

Nou die dag gaan ek oudergewoonte vir my middagwandeling van my huis naby die Strooidakkerk na die Arboretum. Dit was 16:00.

Toe ek by die voetgangerbrug kom, sit daar ’n groep jongmense op die grasoewer, hulle drink bier en rook ’n hoekapyp.

Binne die Arboretum is ’n soortgelyke groepie – drink drank, luister harde musiek ens.

Ek stap met my hond verder die Arboretum in, onderdeur die treinspoorbrug en verder. Daar is geen ander mense nie en ek laat my wolhaarbrak ’n bietjie los om te baljaar. Ek doen dit as dit stil is en as ek mense of honde gewaar, dan maak ek haar weer aan haar leiband vas.

Verbasend, en die eerste keer wat ek dit in al my jare se stappery in die Arboretum sien, kom twee wetstoepassingsbeamptes aangestap – kamstig op patrollie.

En sowaar as wragtig trap hulle my uit omdat my hond nie aan ’n leiband vas is nie.

Maar net 500 m van daar is daar mense wat verskeie munisipale ordonnansies oortree. Word hulle ooit aangespreek of word aksie geneem? Ek twyfel.

En nou sien ek ook om die swemsei­soen in die rivier te verwelkom, is opslaantoilette weer op die oewer aange­bring.

Ek sal graag wil weet hoe dik­wels hierdie deur die munisipaliteit gemonitor en skoongemaak word – dit is ook onaansienlik!

En dan moet inwoners van hierdie gebiede maar Maandag oppak en trek wanneer die erg steurende Jazz on the River weer in die Arboretum plaasvind. Verlede jaar kon ’n mens selfs baie ver nie eens jouself hoor dink nie.

Ek woon nie eens op die drumpel van die Arboretum nie. Is inwoners van die geaffekteerde gebied geken in die saak? Sekerlik nie.


Schalk,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.