Daar is ’n tikkie goeie nuus noudat die somer hier is, en dit is dat alle munisipale swembaddens weer oop is.
Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, is alle swembaddens (Paarl, Paarl-Oos, Wellington, Mbekweni en Weltevrede) van 1 Oktober vanjaar oop tot 31 Maart volgende jaar en kan Bolanders die warm weer met ’n plons in die swembad aandurf.
“Die openingstye vir alle swembaddens is daagliks van 10:00 tot 19:00, insluitend naweke,” volgens Esau.
Kostes beloop R10 vir volwassenes (16-59 jaar) en R5 per kind (15 jaar en jonger). Bejaardes (mense van 60 jaar en ouer) se toegang is gratis met bewys van ’n ID.
“Altesaam 55 menseredders is vir al die munisipale swembaddens in Drakenstein-munisipaliteit aangestel,” het Esau bygevoeg.