Met die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedrei­gende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein- palliatiewe hospies. Boonop is talle medaljes en geldpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die Historium Trust, die Drakenstein- palliatiewe hospies en die Paarl-atletiekklub se pretbelaaide aandwedloop Woensdag 7 Desember op die beeldskone Paarlberg plaasvind.

Soos altyd kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelterrein en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder.

Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ’n piekniekmandjie of bestel een vooraf by die ATM Koffiehuis by 082 216 2510 (WhatsApp). Dié koffiewinkel sal ook verversings en pizza te koop aanbied. Bring ’n kombers/kussings en onthou ook asseblief warm klere en ’n flits.

Die 10 km-aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30 en volg ’n opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die vooraf inskrywingsfooi is R100 (R110 op die dag) en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ’n atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R50. Die gesellige 5 km-Woordloop, wat om 18:45 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Die vooraf inskrywingsfooi is R60 (R70 op die dag) en deelnemers skryf in met ’n prettige Afri­kaanse woord eerder as ’n nommer. In albei gevalle is stappers ook welkom, dus is daar g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie.

Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn vóór 4 Desember om 00:00 by www.topevents.co.za (info@topevents.co.za), by die Drakenstein- palliatiewe hospies en die Taalmonument (daagliks van 08:00 tot 16:30) asook op die dag van die wedloop self tussen 16:00 en 18:15. Toegang is gratis vir ondersteuners. Vir navrae oor die 10 km-aandwedloop, kontak Lucky Mokwena by mokwena1@icloud.com of 084 826 5895, en vir navrae oor die 5 km-woordloop, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za.

Die meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word uitsluitlik deur private instellings aangebied, en die Drakenstein- palliatiewe hospies is in 1991 deur ’n klein groep vrywilligers gestig om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 230 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise per maand, en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nederset­tings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word. Die doel is om lyding te voorkom deur middel van vroeë iden­tifi­kasie en deeglike assessering, en deur die pyn en ander pro­bleme wat met die siektes ver­band hou, op ’n fisieke, psigo­sosiale en geestelike vlak aan te pak. Besoek drakensteinhospice.org.za of skakel 021 872 4060. . Take a run or hike on Paarl Mountain for Drakenstein Palliative Hospice.

You need to be Logged In to leave a comment.