Die agtspan-waperde sal toeskouers Saterdag (7 September) by die Swartlandskou Moorreesburg vermaak – ’n tradisie waarvoor mense van heinde en ver reis.


Die grootste landbouskou in die Wes- en Suid-Kaap vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar in die hartjie van die Swartland met ’n program vir die hele gesin. Die Swartlandskou Moorreesburg is van gister (Woensdag 4 Serptember) aan die gang en duur tot Saterdag (7 September) en stel die beste uit dié geweste aan 20 000 besoekers bekend. Die skou, met Afgri as ankerborg, is bekend vir die beste perde, beeste, skape en pluimvee, asook ’n masjinerie-uitstalling van R230 miljoen.

Die cool van landbou sluit onder meer agtspan-waperde en ’n skaapskeer­dery in.

Die skouprogram bars vanjaar uit sy nate met landbou- én leefstylaktiwiteite.

Die Swartlandskou pronk met die grootste vleisbeesskou in die Wes- en Suid-Kaap, met sowat 400 diere wat om gesogte titels meeding.

’n Kleinvee-nuutjie is die Swartlandskou-skeerkampioenskap.

Besoekers kan ook uitsien na die BKB & FNB-slaglamkompetisie, die Merino-kampioenskap, die SA Vleismerino- Super 10-kampioenskap en die OVK-Interrasuitstalling.

Meer as 400 wa-perde sal ten toon gestel word met die agtspan waperde as ’n hoogtepunt.

Sowat 230 leerders sal aan die Streek-jeugskou deelneem en die Wes-Kaapse Pluimveeklub bied ’n pluimvee-tentoonstelling aan.

Die musikante Jay, Chris Else, Viljoen Retief, Dodo Nyoka, Jan Rhaap en ander sal optree, terwyl die Afgri-vrouedag met Marciel Hopkins as gasspreker en ’n landbou-oggend met Theo Vorster as gespreksleier interessante ervarings beloof.

Die kleingoed kan uitsien na ’n kulkunstenaar, ’n dansskool, Lollos en ’n speelpark met toesig.

Volgens die president, Jacques Bester, is die Swartlandskou ’n sukses danksy noue samewerking tussen die gemeenskap en sakeondernemings.

Kaartjies is by Ticketpro en by die hekke te koop. Toegang wissel van R50 tot R150 per dag, gratis vir kinders onder vyf jaar en R40 vir kinders onder 18 jaar, asook afslag vir pensioentrekkers. Vir meer inligting, besoek: www.swartlandskou.co.za/ en volg @SwartlandskouMoorreesburg op Facebook en @Swartlandskou op Instagram.

You need to be Logged In to leave a comment.