My moermeter is verby dakhoogte van kwaadgeit.
Ek is oor die algemeen iemand wat positief ingestel is. Of dit nou oor die lewe of my buurman of die mense in my buurt of straat is. Ek glo daar skuil in elkeen van ons iets moois of goeds wat die lewe vir almal makliker kan maak. Dit beteken egter nie dat ek naïef of goedgelowig is nie. Ek is ook ‘n realis wat maar al te goed besef dat ons in ‘n gebroke, brose wêreld leef. Daai gebroke wêreld het soms die tendens om sy aakligste kant skaamteloos aan alles en almal te ontbloot.
Ek het daardie skaamteloosheid eerstehands ervaar toe ek bloot ‘n reisdokument by een van ons staatsdepartemente moes gaan afhaal. Ronde een van my besoek aan die spesifieke departement was verbasend positief van aard. My geloof in ons openbare stelsels het heelwat gestyg. En voordat jy kon sê “tea time” toe ontvang ek al weer ‘n SMS wat sê my reisdokument is gereed vir afhaal. Ek het amper vir die agbare minister in beheer van daai departement e-pos gestuur om te spog met die flinke diens by een van ons dienspunte.
Nou is ek eerder verheug dat ek dit nie gedoen het nie, want besoek twee aan hierdie einste dienspunt was pateties verby. Op hierdie punt sal jy seker reeds dink… welkom in ons mooi land waar min tot niks seepglad verloop. Ek, aan die ander kant, en seker party van julle, probeer my uiterste bes om daai vlammetjie van hoop en positiwiteit helder te laat brand, maar ná my goor ervaring verkies ek eerder om my erge misnoeë uit te spreek teenoor nog ‘n staatsdepartement wat ons mense vieslik faal.
Ek sê weer… ek was daar… saam met al my ander mede-landsburgers. Ons almal was daar om die een of ander dokument te kom haal of om vir ‘n spesifieke dokument aansoek te doen.
Ons almal het geduldig en beskaafd ons beurt afgewag en al die protokol en prosesse respekteer. Die atmosfeer was eintlik lekker, want oral skerts iemand of maak ‘n grappie om die tyd om te kry. Daar is oumas, oupas, mammas, pappas, jong paartjies, kinders, jong manne en jong vroue in die ry.
Ek glo ons almal koester die hoop dat vandag ‘n mooi dag sal wees; dat ons almal tevrede huis toe sal kan gaan, want die diens by hierdie departement was uitstekend. Ek meen maar, ek het al soveel kere gelees hoe swak die diens by party staatsdepartemente is. Van hierdie stories klink na rillers – asof dit nie hier in ons land kan gebeur nie, want die inhoud van sommige stories is te erg, te wreed of te onmenslik dat ‘n mens dit kwalik kan of wil glo.
Wel, ek het eerstehands ervaar hoe bejaardes en mammas vir ure in ‘n ry moes wag om gehelp te word. Kommunikasie van hulle wat ons as publiek moet dien, was maar yl gesaai. En die hele tyd sit en wonder almal hoekom die ry dan nie beweeg nie. En die tyd stap aan. Dis ná die etensuur en steeds sit almal en wag. Ek het skuins ná elf by die dienspunt aangemeld. Party van my landsgenote het al baie vroeër opgedaag.
Uiteindelik kom haal ‘n sekuriteitsbeampte die bewys van betalings by ons almal en die hoop vlam weer so ‘n bietjie op.
Dit was van korte duur, want knap voordat die department se werksdag tot halt geroep word, kom een van die beamptes te voorskyn.
Sy aankondiging is kort en bondig: “Ek het slegte nuus vir almal… die stelsels is af. Kom maar môreoggend vroeg weer terug.”
En dis dit. My moed sak tot in my skoene. My hart gaan uit na die bejaarde vrou wat twee sitplekke van my af haar beurt afgewag het. Sy wag al van douvoordag af. Die vroutjie wat haar kind se geboortedokument kom afhaal, is na aan trane. En die man wat ‘n afdag by sy werk moes neem, se pleidooie val op dowe ore.
Soos ‘n klomp herderlose skape is ons almal huis toe gestuur. Klink dit vir jou bekend? Ek was woedend. Die grootste deel van my dag was nutteloos van aard, want al wat ek gedoen het, was wag vir niks. Ek was woedend omdat my mense nog ‘n keer aan die ontvangkant van uiters swak dienslewering was.
Ek is woedend, want ek moet soos al my landgenote weer die volgende oggend op eie onkoste die pad na dieselfde departement aandurf. Hopelik is die stelsel dan weer aan…
As Suid-Afrikaners verdien ons beter.