Wanneer jy hospitaal toe gaan vir mediese hulp, moet jy gerus voel, maar vir Charlene Adams is dit ’n traumatiese ondervinding ná haar seun se dood in die Paarl-hospitaal en die diens wat sy onlangs ontvang het.
Adams vertel sy is self jare lank al ’n verpleegster en weet wat die prosesse is wat verpleegsters moet volg sodra ’n pasiënt vir mediese hulp kom aanklop.
Ná ’n paar jaar se gesukkel met ’n pyn in haar linkerarm wat soms tot in haar nek skiet, is Adams onlangs dokter toe omdat die pyn erger is. Die dokter het haar vir verdere toetse na die hospitaal verwys. Adams meen wanneer ’n pasiënt ’n pyn in sy of haar linkerarm het, kan dit moontlik ’n aanduiding van ’n hartkwaal of hartaanval wees. Dus moet sulke gevalle ernstig opgeneem word.
Adams het Donderdagmiddag 21 November omstreeks 14:03 met pyn en al by die Paarl-hospitaal aangeklop. Sy is teen 16:49 getriage en is eers teen 22:00 deur ’n dokter ondersoek. Adams meen dit is onaanvaarbaar, of dit nou sy of iemand anders was, dat iemand met erge pyn aan hul linkerkant so lank moes sit om gehelp te word.
“Ek kon iets oorgekom het en dan, wie se skuld is dit? Ek het geduldig daar gesit en wag. Toe ek ná ’n paar uur sien mense wat ná my gekom het, is gehelp en gaan al huis toe, het ek ’n verpleegster genader en my situasie verduidelik. Ek het ook vir haar gesê dat ek ’n verpleegster is en dat dit onaanvaarbaar is. Ek is toe deurgelaat en gesê ek kan na die dokter toe gaan en my situasie verduidelik. Die dokter het geluister en my ondersoek.
“Toe ons my lêer soek, toe kom dit heel onder uit die mandjie. So, wanneer sou ek nou eintlik gehelp gewees het?”
Adams vertel sy het reeds nie goeie herinneringe van die Paarl-hospitaal nie nadat haar seun in 2021 daar oorlede is.
“Ek sien hoe loop hy nog in die gang af. Daarna is hy dood en ons het nou nog nie al die antwoorde nie. My seun, Ashwin, was ’n verpleegstudent en nadat hy met sy gesondheid gesukkel het, het die dokter hom na die Paarl-hospitaal verwys.
“Hulle het gemaak asof hy niks makeer nie. Nadat hy opgeneem is, het ons nog oor die foon gesels en daarna kon ons hom nie bereik nie. Eers nadat ons navraag gedoen het oor hoe dit met hom gaan, het ’n dokter ons meegedeel dat Ashwin reeds vroeër die oggend oorlede is. Sedertdien wil ek nie naby daai hospitaal kom nie. Ek is gedwing, deur my ander twee jonger kinders, om by ’n siekefonds aan te sluit, maar omdat die voordele nog nie in werking is nie, kon ek [dit nie bekostig] om na die private hospitaal toe gaan nie.
“Ashwin is in saal 6B1 opgeneem en ek sal enigeen wat familie het wat in daardie saal opgeneem is, aanraai om hul familielid te laat transfer na ’n ander saal.”
Toevallig het Paarl Post nog ’n klagte ontvang van saal 6B1 en die personeel, insluitend sommige dokters, wat daar werk.
Navrae is aan die Paarl-hospitaal gerig, waarop ’n woordvoerder, Leensie Lotter, geantwoord het.
“Die hospitaalbestuur neem kennis van me. Adams se ervaring by die Paarl-hospitaal en die gehalteversekeringsbestuurder sal haar kontak om die klagte formeel te ondersoek.
“Ons versoek graag pasiënte en besoekers om direk met die bestuurder aan diens te praat of om uit te reik via ons klagtehulplyn. Stuur ’n SMS met die woord “Help” gevolg deur jou besonderhede na 31022, skakel 0860 142 142 (druk “1”), stuur ’n Please Call Me na 079 769 1207 of stuur e-pos na service@westerncape.gov.za. Ons kan u verseker dat ons na al u bekommernisse sal luister en dit met deernis en respek sal hanteer.”