Pelikaanpark in Wellington het Saterdag behoorlik uit sy nate gebars met die groot skare wat vir die eindronde van die jaarlikse Wellington Minstrels-klopsekompetisie saamgetrek het.
’n Volgepakte pawiljoen het oorgeborrel van opgewondenheid toe Super Stars as nuwe kampioen gekroon is. Verlede jaar se wenners, Hot Shot Panthers, het tiende geëindig.
Twaalf klopsetroepe was in die eindronde van die Wellington Minstrels Coon Carnival se jaarlikse kompetisie wat ten einde geloop het.
Salberua Entertainers, Disas, Hot Shot Panthers, Super Stars, Hillcrest Starlights, Uitsig, Young Stars, Broadway Serinades, Atlantic Stars, Patonians, WFL United en Caledonian Roses het mekaar die stryd in die senior solo-, senior gekombineerde lied-, senior trommajoor- en senior moppie-kompetisie aangesê.
Super Stars en Atlantic Stars het met die louere weggestap met twee eerste plekke elk.
Die twaalf troepe met ’n ledetal van bykans 2 000 troepe het mekaar behoorlik opgekeil.
Vanjaar het die kleiner troepe uitgestyg en verras om met eerste plekke weg te stap. Dit was veral Broadway Serinades, Hillcrest, Young Stars, Star Lights en Disas Coon Carnival wat op verrassende wyse eerste plekke losgedans het.
Super Stars het vier eerste plekke in die verskeie afdelings behaal en het in elke item plekke verower, gevolg deur Young Stars met drie eerste plekke en Atlantic Stars en Caledonian Roses met twee elk.
In sommige items is trofees vir tot vyfde plek aan troepe oorhandig.