Projek Bietjie Liefde het Saterdag die inwoners van Sunfield Home met ’n pamperlang-sessie bederf. Van voor links na agter is die Sunfielders Margerite Young, Lynette Conradie en Minnette Geldenhuys en regs van voor na agter sit Patricia Smit, Micia Smit (Mej. Jr. Tiener SA 2019), Charmaine Myburgh, Adriaan Stoffberg en Waldette Stoffberg. Die projek is deur Micia en haar ma, Patricia, begin. Foto: Liezl Davids


Die afgelope naweek was ’n besige tydjie vir Sunfield Home Wellington, ’n residensiële fasiliteit vir volwassenes met intellektuele gestremdheid.

Nie net was die inwoners aan die ontvangkant van ’n bederfsessie deur Projek Bietjie Liefde nie, maar het hulle ook deelgeneem aan die 27 For Freedom-wedloop ter herdenking aan oudpresident Nelson Mandela se historiese vrylating 30 jaar gelede uit die destydse Victor Verster-gevangenis ná 27 jaar in aanhouding.

Projek Bietjie Liefde, ’n inisiatief deur Micia Smit, Mej. Jr. Tiener Suid-Afrika 2019, het die inwoners Saterdag (8 Februarie) met pamperlangsessies bederf.

PBL-vrywilligers het wors gebraai en inwoners het aan heerlike kolwyntjies gesmul.

Sunfield Home Wellington is Vrydag 7 Februarie by die Loslitdag-prysuitdeling vereer as een van die top-tien-organisasies wat die meeste geld vir mense met gestremdhede ingesamel het. Hulle is ook as nommer een in die Wes-Kaap – uit 500 organisasies – aangewys.

Volgens Garine de Wet, Sunfield se bemarkingshoof, het hulle in 2019 sowat 12 000 Loslitdag-kaartjies verkoop. Die kaartjies kos R10 en R4 daarvan word aan Sunfield Home geskenk om vir die behoeftes van hul inwoners aan te wend.

Sakeondernemings en skole wat by die Loslitdagprojek wil inskakel, kan Garine de Wet per e-pos kontak by garine@sunfieldhome.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.