Die landbounavorsingsraad (LNR) se nasionale Meester-suiwelboer van die Jaar vir 2023 is Jaco Swarts, bestuurder van RFG Dairy by RFG Foods, Simondium.
Swarts is as die wenner aangewys tydens die LNR- nasionale meester-suiwelboer-prysuitdeling, wat Donderdag 16 November by Groot Phesantekraal-landgoed in Kaapstad gehou is.
Hierdie gesogte kompetisie vier uitstaande prestasie deur Suid-Afrika se top-suiwelboere en word deur verskeie sleutelrolspelers as ’n hoogtepunt op die land se landboukalender erken. Wenners word in verskeie afdelings gekroon om erkenning te gee aan die land se beste presteerders in die teel van geneties uitstaande diere, met behulp van prestasie-opname en prestasietoetsing as instrumente.
Die ander wenners is die JJ Nel Familie Trust (LNR nasionale mediumskaal-meester-suiwelboer) van Ladismith en Gugulomuzi Ngcobo (LNR- nasionale kleinskaal-meester-suiwelboer) van Donnybrook, KwaZulu-Natal.
Die geleentheid is aangebied deur Agri-Expo, namens die nasionale melkaantekening- en verbeteringskema van die LNR. Belangstellendes kan die prysuitdeling aanlyn sien by https://www.agriexpo.co.za/arc-masterdairyman-awards/


