Die tyd vir die Suidoosterfees-talentsoektog het aangebreek en keurders gaan weer eens die provinsie deurkruis.
Die sesde talentsoektog, wat deur Sanlam moontlik gemaak is, sal tussen September en November plaasvind.
Die doel van hierdie projek is om nuwe talent in die Wes-Kaap te ontdek en deelnemers dan opleiding te gee in die kunste en die kunstebedryf.
Deelnemers word ook blootgestel aan hulpbronne in die bedryf.
Die fokus is dus op die ontwikkeling van jong kunstenaars deur werksessies, mentorskap en werkskepping.
Die fees bied sewe uitdunrondes aan en een van hulle sal in Wellington wees.
Keurders is op soek na jongmense tussen 9 en 25 jaar met talent in sang, instrumentele musiek, dans asook toneelspel.
Inskrywings is gratis en deelnemers staan die kans om R10 000 kontant te wen, asook groot geleenthede in die professionele kunstebedryf.
Die eerste uitdunne sal op 14 September by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad plaasvind.
Daarna sal die soektog op 21 September na Wellington verskuif, waar hulle by die Breytenbach-sentrum sal wees.
Op 28 September sal hoopvolle jongmense in Athlone by die Cape Music Institute vir ’n uitdun kan aanmeld.
Die vierde ronde sal op 5 Oktober by Cedar Hoërskool in Mitchells Plain plaasvind en op 12 Oktober sal die soektog by die CR Louw-ouditorium by Sanlam se hoofkantoor in Voortrekkerstraat, Bellville, voortgesit word.
Op 26 Oktober sal die span in Bredasdorp in die Overberg ’n draai maak met die laaste uitdun vir 2 November by The Shack Arts School and Theatre (KASI RC) in Khayelitsha.
Die Suidoosterfees sal ook op 14 Maart aanstaande jaar ’n meesterklas vir alle semifinaliste aanbied by Northlink College se dramadepartement in Panorama.
Die halfeindronde van die kompetisie sal op 28 Maart volgende jaar by die amfiteater van die V&A Waterfront in Kaapstad plaasvind.
Die eindronde sal tydens die jaarlikse Suidoosterfees by die Kunstekaap-teatersentrum aangebied word en op 2 Mei plaasvind.
Deelnemers kan aanlyn inskryf deur hierdie skakel te volg: http://www.123formbuilder.com/form-4957932/suidoosterfees-talentsoektog-talent-search-2019-20.