’n Paarlse man wat hom lelik misgis het toe hy in Julie 2022 by ’n Dis-Chem in die Paarl ereksie-pille gesteel en in die hof beland het, is vrygespreek.

Josquin September het op 26 Julie 2022 by ’n Dis-Chem ingestap waar hy R109,95 se ereksie-pille gesteel het en op die perseel deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem is.

Hy het die eerste keer op 27 Julie 2022 in die Paarl-landdroshof verskyn, waar die aanklaer voorgestel het dat die saak ingevolge artikel 112 van die strafproseswet hanteer moet word, volgens ’n berig op Netwerk24.

Volgens die berig, wat op 7 Oktober gepubliseer is, het September skuld beken op aanklag van diefstal en is hy ’n boete van R1 000 of 50 dae tronkstraf opgelê.

Ná die vonnisoplegging het September aangevoer sy regte is nooit behoorlik aan hom verduidelik nie en die saak het op hersiening na die Kaapse hooggeregshof gegaan.

Volgens September het die landdros wat die saak hanteer het, nie aan hom verduidelik dat hy ’n regsverteenwoordiger mag aanstel voordat hy gepleit het nie.

Die landdros en die nasionale vervolgingsgesag het nie September se hersieningsaansoek teengestaan nie.

Regters Robert Henney en André le Grange het die hersiening hanteer en bevind dat dit wat die landdros in die hof gesê het en wat op die klagstaat staan, verskil.

’n Stemopname tydens September se hofverskyning lui:

“Goed meneer [Josquin September], die staat het aangedui as u van plan is om vandag skuld te beken, kan die saak afgehandel word, en ons sal ’n kort prosedure volg, maar dan sal u dit persoonlik moet doen. As jy egter skuld wil ontken, waarop jy heeltemal geregtig is, sal die saak vir verhoor uitgestel moet word, en alles sal verder aan jou verduidelik word.”

Die klagstaatinskrywing daarenteen lui “beskuldigde – regte met betrekking tot regsverteenwoordiging verduidelik; hy verstaan – voer eie verdediging + wil vandag skuldig pleit”.

Die handgeskrewe gedeelte is dus anders as die stemopname wat tydens die hofverskyning gemaak is, en volgens September is die stemopname die regte weergawe. In die stemopname het September ingestem tot ’n “kort prosedure” wat beteken dat hy regsverteenwoordiging van die hand gewys en skuld beken het.

Hy het aangevoer dat hy dit gedoen het sonder dat die landdros vir hom verduidelik het wat hierdie “kort prosedure” beteken en dat dit tot ’n misdaadrekord sou lei.

Volgens die bevinding van die hooggeregshof het die landdros aan September gesê dat die saak deur die “kort prosedure” afgehandel kan word, maar dat dit beteken dat hy sonder regsverteenwoordiging moet voortgaan.

Die bevinding het gelui dat dié verduideliking “onbehoorlik en verkeerd is” volgens die 112 (1) (a) wat melding maak van die “kort prosedure”.

Die hooggeregshof het dus bevind dat die landdros onreëlmatig opgetree het en September is vrygespreek en sy straf geskrap.

Daar word nie ’n nuwe saak teen September ondersoek nie en die ereksie-pille is aan Dis-Chem terugbesorg.

You need to be Logged In to leave a comment.