Twee finalejaar-onderwysstudente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se kampus in Wellington het ’n gemeenskapsuitreikingsprojek by plaaslike skole voltooi om die leerproses in klaskamers te help verbeter.
Die KSUT-onderwysstudente Jedache Salmon en Eduard Bongers was aan die stuur van die projek.
Hul studie het gehandel oor probleme en oplossings wat leerders in wiskunde ondervind.
Hierdeur kon hulle sien hoe leerders redeneer wanneer hulle ’n lang vermenigvuldigingprobleem moes oplos.
“Ek het vir die program tutoriaalklasse en ’n wiskunde-klub geskep om die lesse aan te bied. Dit was ’n platform om met wiskunde en gepaardgaande dissipline te eksperimenteer en te sien hoe leerders oor wiskundige probleme redeneer,” sê Jedache.
Dit het haar aangespoor om verder in wiskunde te gaan studeer.
“Een van die elemente wat ek graag saam met my in die praktyk wil gebruik, is om wiskunde prakties te maak waar leerders modelle kan skep om ’n beter begrip van die vak te ontwikkel,” sê Jedache.
Haar wenke aan die ouers is om die baie belangrike punt wat die kurrikulum- en assesserings beleidsverklaring (KABV) in die intermediêre fase maak – dat die wêreld gesien moet word as ’n stel verwante stelsels waarin probleme nie in isolasie opgelos word nie – prakties toe te pas.
Jedache beveel ouers dus aan om scenario’s by die huis te skep waarby wiskunde betrek kan word. “Só sal die leerders ’n beter begrip van wiskunde ontwikkel en skakels tussen simbole en syfers kan raaksien,” sê sy.
Die blootstelling aan die konseptuele vermengingsteorie het haar as onderwysstudent getransformeer om leerders se maatskaplike reg op die gebied van hul verskillende denkwyses te erken en te respekteer. Sodoende sal leerders na ’n hoër vlak van wiskunde kan beweeg.
Eduard sê dat hy ’n unieke en opbouende ervaring in die projek opgedoen het.
“Dit het my vir seker uit my gemaksone gehaal, waaruit ek ook baie geleer het. Die leerders het met wiskunde gesukkel en hulle het baie min daarin belanggestel. Dit was ’n uitdaging, maar ook lekker, om die leerders hierby te betrek,” verduidelik Eduard.
“Ek kon ervaring opbou om wiskunde op ander wyses te benader om die vak sodoende pret vir leerders te maak. Ander metodes wat gevolg word om leerwerk vir wiskunde te verbeter, was ’n fokuspunt en het my raamwerk van onderrig verbreed,” sê hy.
Vir hom was die ervaring uitdagend – veral met die baie nuwe konsepte en denkwyses van onderwys waaraan hy as mens nog nie gedink het nie.
“Die onderwyser moet slegs as ’n fasiliteerder optree om leerders te ondersteun en te lei. Hulle moet later aan hul eie denkwyses oorgelaat word om hulle verder self te ontwikkel,” verduidelik Eduard. Verder sê hy ’n fondasie moet geskep word sodat leerders hul basiese kennis van wiskunde kan gebruik om self verder daarop te bou.