Stryd tussen handelaars en Drakenstein-munisipalitet duur voort oor gedwonge skuif

Die informele handelaars in Lady Grey-straat in die Paarl, en die Drakenstein-munisipaliteit (DM) is stééds in ‘n stryd betrokke sedert verlede week se operasie toe die munisipaliteit die handelaars gedwing […]


Die informele handelaars in Lady Grey-straat in die Paarl, en die Drakenstein-munisipaliteit (DM) is stééds in ‘n stryd betrokke sedert verlede week se operasie toe die munisipaliteit die handelaars gedwing het om vanaf die middedorp te skuif na Patriotplein op die hoek van Nuwe- en Derksenstraat óf die taxi-staanplek langs die Bergrivier-boulevard.

Na dié operasie, het verskeie politieke partye hul stem dik gemaak teen die DM se behandeling teenoor die informele handelaars, ondermeer die GOOD-party wat ‘n verklaring uitgereik het.

Volgens Keagen Gertse, GOOD-raadslid en hoofsweep in die DM is GOOD “bewus daarvan dat [die huidige konflik tussen die informele handelaars en die DM] ‘n komplekse kwessie is, maar dat GOOD [die DM] aanmoedig om ‘n balans tussen menslikheid, toegang tot infrastruktuur en die wetlike vereistes om handel te dryf, te vind.”

“Ingevolge die 2002 provinsiale koerant 5906 is Lady Greystraat nie ‘n geïdentifiseerde handelsperseel nie, maar artikel 2(5) van die munisipale informele handelsverordening erken die bestaan ​​van historiese nie-afgebakende persele vir verhandeling en dat die munisipaliteit sal poog om te verseker dat informele handelaars toegang tot waardige omgewings kry,” het Gertse in die verklaring verduidelik.

“Alles in ag genome, is die kern van hierdie probleem die feit dat die munisipaliteit die afgelope 23 jaar baie min gedoen het om afgebakende gebiede te hersien en infrastruktuur te ontwikkel om informele handel in Drakenstein te akkommodeer en te bevorder. En dit is ‘n politieke besluit, nie ‘n administratiewe een nie.”

Keagen Gertse, GOOD-raadslid en hoofsweep in die DM

“Alles in ag genome, is die kern van hierdie probleem die feit dat die munisipaliteit die afgelope 23 jaar baie min gedoen het om afgebakende gebiede te hersien en infrastruktuur te ontwikkel om informele handel in Drakenstein te akkommodeer en te bevorder. En dit is ‘n politieke besluit, nie ‘n administratiewe een nie.”

Tydens die afgelope Vrydag (28 Maart) se raadsvergadering was die kwessie ook deur die ANC, Concerned Drakenstein Residents en weer deur GOOD opgebring, waarna die DM se uitvoerende burgemeester, Stephen Korabie geen vrae hieroor wou beantwoord nie.

Volgens vorige kommunikasie deur die DM het die handelaars met geldige permitte “ingestem om van hierdie opsie gebruik te maak waarna hulle, veronderstel wat op teen 31 Maart hul stalletjies te skuif.

‘n Paar handelaars waarmee die Paarl Post gesels het, weier egter volstrek om hierdie skuif te maak, en voer aan dat die wettige handelaars nooit hierby ingestem het nie.

Een van dié handelaars is Lereagan Jantjies wat reeds vir 27 jaar in Lady Grey-straat ‘n inkomste verdien deur leerprodukte, ondermeer belde en sakke, te verkoop.

Volgens hom is die informele handelaars in dié straat reeds twee keer van te vore ( 2008 en 2011) deur die DM gevra om te skuif, en is vanjaar se operasie die derde.

Hy voer aan dat vanaf 2008 tot op hede, daar nooit ‘n plan beraam is om infrastruktuur op Patriotplein en die taxi-staanplek in Bergrivier-boulevard op te rig vir die handelaars nie.

Volgens hom is daar ook nooit met die informele handelaars gekommunikeer oor ‘n moontlike oplossing en vir hul insae nie.

‘n Ander informele handelaar, wie verkies om anoniem te bly, het aangevoer dat daar te min voete by die DM se voorgestelde gebiede is, veral by die taxi-staanplek in die Bergrivier-boulevard en dat dit onregverdig is om te verwag dat voetgangers hiérdie besige straat oorsteek.

David Beukes, ‘n taxidrywer wat op ‘n daaglikse basis sy taxi by hierdie staanplek parkeer, het aan die koerant gewys hoekom hierdie geriewe nie geskik is vir informele handelaars nie.

Volgens hom is dit wat die DM in hul verklaring gesê het en hoe die geriewe eintlik lyk, ver verwyder van mekaar.

Lady Grey-straat in die Paarl. Foto: Jana Scheepers Credit: Jana Scheepers

In ‘n vorige persverklaring voer die DM aan dat daar reeds infrastruktuur op die taxi-staanplek opgerig is, ondermeer skadunette, vullisdromme en spoeltoilette, en alhoewel Beukes nie hierdie stellings ontken nie, is die infrastruktuur, volgens hom, nie op standaard nie.

Volgens hom is die skadunette ook nie waterdig nie, en is die perseel deurdrenk met water in die winter wanneer die Bergrivier opstoot na hewige reën.

Hy voer aan dat daar net twee spoeltoilette is, te min vir die informele handelaars en hul klante, asook die taxidrywers, om te gebruik.

Buiten hierdie faktore, voer Beukes ook aan dat die perseel nie ‘n volwaardige taxi-staanplek is nie, maar slegs ‘n aanhoudingsone waar die taxi’s parkeer afwagtend om huil klante by die eintlik staanplek, wat by Shoprite is, op te tel.

Dus, voer Beukes aan dat die handelaars nie geld gaan maak nie, omdat die publiek nie nie die aanhoudingsone besoek nie.

Volgens Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, staan die munisipaliteit by sy besluit vir alle wettige handelaars om vanuit Lady Grery-straat na die twee ander geïdentifiseerde gebiede te skuif.


“Die DM erken die bydrae deur die informele sektor tot die plaaslike ekonomie en verstaan ​​die belangrikheid daarvan om ‘n waardige en bemagtigende omgewing te voorsien vir deelnemers in hierdie sektor om ekonomies aktief en suksesvol te wees,” het johaar gesê .

“Die DM sal verseker dat handelaars by ander handelspersele om permitte aansoek doen. Permitte sal vir drie maande uitgereik word en slegs vir handelsareas wat toegang het tot ablusiegeriewe en afvalverwyderingsfasiliteite.”


“Een van die hoofredes waarom die DMt handelaars uit Lady Greystraat verwyder het – na klagtes deur inwoners, sake-eienaars en klante – was weens die gebrek aan ablusiegeriewe in die area. Die munisipaliteit wil verseker dat die handelaars op ‘n menswaardige wyse behandel word. Ons motivering was ook om wet en orde in die gebied te herstel,” het Johaar bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.