Die onverkwiklike stryd wat Wellington-inwoners die afgelope maande gevoer het met die Drakenstein-munisipaliteit en die maatskappy wat die dorp se vullis wil verbrand en in energie wil omskep, is nou vinnig besig om tot ’n einde te kom.

Die finale omgewingsimpakverslag oor die gebruik van ’n verbrandingsoond in Wellington is pas uitgereik.

Volgens Drakenstein Enviromental Watch (DEW), die organisasie wat deur Wellington-inwoners gestig is om die stryd teen die beoogde oond in Wellington te voer, moet inwoners voor 4 Desember finaal op die verslag kommentaar lewer.

Bernus van der Westhuizen, voorsitter van die bestuur van DEW, sê die organisasie staan steeds die oprigting van ’n vullisverbrander teen. “DEW staan egter nie bloot op die kantlyn en skree teen die oprigting van ’n verbandingsoond nie. Ons is deeglik bewus van die probleem van groeiende volumes afval en daarom is DEW een van die partye wat ’n praktiese oplossing vir hierdie groot probleem soek. Ons huldig ook die standpunt dat die oplossing nie bloot daarin lê om ’n verbandingsoond in Wellington op te rig nie. Hierdie is ’n streeksprobleem en dit moet so aangespreek word. Al die munisipaliteite van die Wynlandstreek en dalk selfs die Kaapse Metropool moet saam na die probleem van vullishante­ring kyk.”

Volgens Van der Westhuizen is dit baie duidelik dat die finale impakverslag daarop gemik is om die organisasies wat gemoeid is met die oprigting van die oond by Wellington se behoeftes en voorkeure te bevredig.

“Kriteria soos die beskikbaarheid van dienste en die visuele impak van die aanleg op die omgewing behoort meer gewig te dra. Dit is egter heeltemal geïgnoreer in die finale verslag. Eintlik behoort ’n potensiële perseel vir so ’n oond by Klapmuts voorkeur te geniet. Interwaste, die organisasie wat die oond gaan bedryf, sê 39% van die vullis wat benodig word om die oond ekonomies winsgewend te bedryf, sal uit Stellenbosch kom. Drakenstein gaan maar 28% van die totale volume vullis kan voorsien. Met die vervoerprobleme in gedagte is dit duidelik dat so ’n aanleg baie nader aan Stellenbosch as aan Wellington moet wees.

“Ons wil dus weet waarom Wellington Interwaste se eerste keuse vir die oprigting van die oond is. Dit maak duidelik nie sin nie. Die oond is naby die Bergrivier en dis te naby aan hoëdigtheidwoongebiede, skolesport­geriewe en intensiewe boerdery­aktiwiteite.”

DEW staan daarby dat die geweldige openbare teenstand teen die oprigting van ’n oond by Wellington nou die nodige aandag moet ontvang. Daar moet nou ernstig na ’n haalbare, omgewings­vriendeliker oplossing vir die probleem gesoek word.

Met die oog daarop verwerp die gemeenskap soos verteenwoordig deur DEW die finale impakstudie.

DEW sal ook voortgaan om die oprigting van ’n vullisverbander by Wellington teen te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.