Strukture in Wellington ná brand ‘verder van mekaar’ herbou, kry rookalarms

Die minstens 200 informele strukture wat op 6 April in ‘n brand by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington verwoes is, is vandeesweek stelselmatig deur die Drakenstein-munisipaliteit begin herbou […]

Drakenstein-munisipaliteit se tegniese spanne is Maandag (14 April) by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington besig, waar nagenoeg 200 strukture in 'n brand op 6 April verwoes is. Foto: Verskaf

Die minstens 200 informele strukture wat op 6 April in ‘n brand by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington verwoes is, is vandeesweek stelselmatig deur die Drakenstein-munisipaliteit begin herbou en sal van rookalarms voorsien word.

Die nuwe erwe is met wit krytlyne afgemeet sodat dit ver genoeg van mekaar af is vir brandbestryders en ander nooddiens-voertuie om vrylik tussen hulle te kan beweeg, het die munisipaliteit Maandag (14 April) in ‘n verklaring gesê.

Drakenstein-munisipaliteit se tegniese spanne is Maandag (14 April) by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington besig, waar nagenoeg 200 strukture in 'n brand op 6 April verwoes is. Foto: Verskaf
Drakenstein-munisipaliteit se tegniese spanne is Maandag (14 April) by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington besig, waar minstens 200 strukture in ‘n brand op 6 April verwoes is. Foto: Verskaf

Nagenoeg 1 000 mense is dakloos gelaat toe die brand omstreeks 00:30 Sondag (6 April) uitgebreek het.

Sterk wind wat daardie nag in die gebied ervaar is het vlamme glo aangehits met die gevolg dat die brand eers teen 05:00 die oggend in bedwang gebring is.

‘n 52-jarige vrou is dood.

Volgens die munisipaliteit was sy ingenieursdienste teen Maandag onder meer besig om die gebied met grond op te vul en die oppervlak gelyk te maak om moontlike toekomstige oorstromings tydens swaar reënval te voorkom.

“Die munisipaliteit het graaflaaiers, ‘n skraper en vragmotors op die terrein gehad om met hierdie werk te help,” het sy verklaring gelui.

Die munisipaliteit sê met die hulp van Gift of the Givers en ander organisasies word die slagoffers goed versorg en daagliks gevoed, terwyl ’n speelgoed-insamelingspoging vir die kleintjies en ’n verspreidingsveldtog van sanitêre doekies in volle swang is.

Hy het gesê die werk vir die komende dae sluit onder meer die die herstel van waterkrane in.

Totdat die waterpunte herstel is, sal watertenkwaens tot op twee keer per dag varswater aan die inwoners voorsien.

Sanitasie geriewe, straatinfrastruktuur en elektrisiteitstoevoer sal ook binne die volgende dae herstel word.

Volgens die munisipaliteit sal hy die nuwe strukture van draagbare rookalarms voorsien.

Enige donasies vir die geaffekteerde inwoners kan by die munisipaliteit se brandweerstasie in die Paarl afgelewer word.

You need to be Logged In to leave a comment.