Die Strooidakkerk in die Paarl se hoofstraat. Foto: Jana Scheepers


Die Strooidakkerk in die Paarl is alombekend as die eerste en enigste kerk in die land wat sy eie wyn maak, nadat die wingerde hiervoor reeds in die jare 2000 geplant is.

Die projek is met ’n oop stuk grond en die hulp van aktiewe gemeentelede tot stand gebring. Die kerkraad het destyds besluit om die eeu oue tradisie van wynmaak te laat herleef eerder as om geboue op die betrokke 0.9 ha op te rig.

Gedurende die Middeleeue was dit gewoonlik monnike wat wingerde verbou het om wyn vir die gemeenskap te maak.

Ná 24 jaar oorleef die projek steeds, en het die Strooidakkerk se wyntrust onlangs om ’n dranklisensie aansoek gedoen om die wyn uit sy kerkkantoor te verkoop.

Volgens Johan von Wielligh, die voorsitter van die trust, beoog die kerk om teen die einde van die jaar in bedryf te wees, waar gemeentelede asook die breër Paarl-gemeenskap kan aanklop vir ’n bottel wyn (of twee).

Die wyn sal dan ook tydens kerkbyeenkomste (nie kerkdienste nie) beskikbaar wees om te drink.

Die Strooidakkerk se wyne het in 2003 vlamgevat toe die kerk se wynmakers die Cabernet Sauvignon-druifsoort geplant en hoofsaaklik rooiwyn en rosé gemaak het.

Die kerk is in 2022 gedwing om sy wingerde weens ’n siekte wat die plante opgedoen het, te ontwortel.

Die projek is in 2023 hervat toe Charles Hopkins, die wynmaker by De Grendel, asook Francois Viljoen, ’n wingerdboukundige-konsultant by Vinpro, die 0.9 ha met 60% Grenache Noir en 40% Carignan vervang het, terwyl Derek Clift, ’n wynmaker by Mason’s Wines, die wingerd in stand hou.

Volgens Von Wielligh word dié projek moontlik gemaak deur gemeentelede soos Hopkins, Viljoen en Clift wat saamwerk en hul kundigheid inspan om dit ’n sukses te maak.

Ander dienste wat deur gemeentelede geskenk word, sluit in, onder meer, die druk van die bottels se etikette.

Omdat almal saamwerk, is die kerk se kostes baie min en kan die verkoop van 4 000 bottels wyn per seisoen die kerk tot R250 000 per jaar in die sak bring.
Johan von Wielligh

“Omdat almal saamwerk, is die kerk se kostes baie min en kan die verkoop van 4 000 bottels wyn per seisoen die kerk tot R250 000 per jaar in die sak bring,” het Von Wielligh gesê.

Volgens Von Wielligh is ’n unieke aspek van dié wyn, met die nuwe variante wat eersdaags in die kerkkantoor sal pronk, die handelsmerk wat die kerkgewel se embleem en leuse verteenwoordig.

Die gewel bevat ’n son as ’n embleem, terwyl die leuse, Sol Iustitiae Illustra Nos, wat beteken “die son van geregtigheid skyn op ons” onder die gewe; aangebring is.

“Aangesien daardie son [op die gewel] letterlik oor die wingerd oorkant die straat skyn, het die kerk dié leuse vir die wynbottel se etiket geneem,” het Von Wielligh vertel.

“Dit het ’n dubbele betekenis,” het hy gesê, omdat die leuse ook spirituele betekenis bevat.

Buiten die Strooidakkerk se wyn wat hy self kweek, het die kerk ook sy eie nagmaalwyn wat deur die KWV in die Paarl gemaak en gestoor word.

’n Unieke aspek van dié soetwyn is dat dit in ’n honderd jaar oue houtvat gestoor word, en ’n spesifieke hoeveelheid voor elke nagmaal vir die kerk gebotteleer word sodat dit tydens die nagmaaldiens gebruik kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.